Banksy-kunswerk veroorsaak weer opskudding

Banksy se bekende “Slave Labour”-kunswerk.

Net meer as ʼn maand nadat die Britse kunstenaar Banksy opslae veroorsaak het toe een van sy bekendste werke outomaties vernietig is net nadat dit vir meer as £1 miljoen op ʼn veiling verkoop is, is die kunswêreld nou weer aan die gons oor nóg ʼn Banksy-kunswerk.

In die jongste voorval het die Amerikaanse kunstenaar, Ron English, vandeesweek $730 000 (ongeveer R10,2 miljoen) vir ʼn Banksy-kunswerk betaal, net om dié kunswerk toe te verf uit protes teen die kommersialisering van straatkuns.

Die bod op Banksy se Slave Labour-kunswerk is Woensdag deur Julien’s Auctions in Los Angeles op English toegeslaan. CNN berig die werk is verwyder van die kant van ʼn Londense winskoopwinkel. Die verwydering van sy kunswerke om op veilings verkoop te word, is iets waaroor Banksy al lankal te velde getrek het.

Die kunswerk is dié van ʼn kind op sy knieë besig om Union Jack-vlaggies met ʼn naaimasjien aanmekaar te stik. Die werk word gesien as ʼn veroordeling van die gebruik van kinderarbeid om memorabilia vir die 2012 Olimpiese Spele in Londen te skep.

The Independent berig English het aan die Press Association gesê hy wens hy “kon meer geld op die kunswerk bestee het” en hy sal dit vir sy “goeie vriend Banksy” weer wit verf.

Banksy se bekende “Girl with Balloon” skildery is herdoop na “Love is in the Bin” nadat dit ten aanskoue van almal by die veiling van Sotheby op 5 Oktober 2018 versnipper is. Foto: Xinhua/Ray Tang

“Hierdie [praktyk] is ʼn terugslag vir straatkuns. Dit moet nie gekoop en verkoop word nie. Ek gaan net bo-oor dit verf en dit op een van die mure in my huis aanbring. Ons is moeg daarvoor dat mense ons goed [straatkuns] van geboue af steel en dit verkoop, so ek gaan net alles koop waarop ek my hande kan lê en dit toeverf.”

Artnet.com berig English het wel gesê hy sal die witgeverfde kunswerk weer vir $1 miljoen verkoop. “Ek is mal, maar nie dom nie,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig die bekende Banksy-kunswerk Girl with Balloon is verlede maand op ʼn veiling van Sotheby in Londen vir £1,04 miljoen (meer as R20 miljoen) verkoop. Kort nadat die afslaer die bod toegeslaan het, het die skildery egter deur ʼn versnipper begin beweeg wat in die raam geïnstalleer was.

Banksy het later ʼn video op sy Instagram-profiel gelaai waar hy wys hoe ʼn versnipper in die raam geïnstalleer word. “Ek het ʼn paar jaar gelede skelm ʼn versnipper in ʼn skildery se raam ingebou, in geval dit ooit onder die hamer sou kom,” het hy gesê.

Die koper van Girl with Balloon het op die ou end wel voortgegaan met die koop en gesê sy is bly om ʼn deel van die kunsgeskiedenis te besit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ek dink ·

Die mense het baie geld om te mors. Wens hulle wil ophou “statements” maak en eerder die geld vir armes of dierebeskerming gee.

Theresa B ·

Kon dit nie beter gestel het. Ek stem volkome saam met jou “Ek dink”!
Dis belaglik wat hierdie mense doen.

Annelize ·

Ja, so lyk dit nou as jy meer geld as gesonde verstand het….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.