Barbie-koors loop oor na braaisous

Die nuwe Heinz Classic Barbiecue Sauce. (Foto: Facebook/Heinz UK)

Dit wil voorkom of geen produk immuun teen sogenaamde Barbie-koors is nie, nie eens braaisous nie.

Die handelsmerk Heinz, bekend vir sy tamatiesous, het kragte met die speelgoedreus Mattel saamgespan om ʼn nuwe, pienk braaisous bekend te stel ter viering van die wêreld se bekendste pop se 65ste verjaarsdag.

Heinz Classic Barbiecue Sauce is ʼn speling op die Engelse barbecue sauce en sal van Woensdag 17 April vir ʼn beperkte tyd in die Verenigde Koninkryk en Spanje beskikbaar wees.

Heinz VK het reeds in Augustus verlede jaar vir aanhangers ʼn lusmaker op Instagram gegee en foto’s van speel-speel ontwerpe vir ʼn moontlike “Barbiecue” en “Kenchup” (vir Barbie se kêrel, Ken) gedeel.

Heinz het verlede jaar dié lusmaker op sosiale media gedeel. (Foto: Instagram/@heinzuk)

Die handelsmerke het vinnig werk daarvan gemaak om dié droomkonkoksie ʼn werklikheid te maak.

“Hierdie vennootskap met Heinz is nóg ʼn manier waarop Barbie-aanhangers die wêreld van Barbie tuis kan bring. Verlede somer het ons vinnig saam met Heinz gewerk om die vooruitsig van ʼn Heinz Classic Barbiecue-sous in digitale vorm lewendig te maak, so dit is nou so opwindend om die fisiese produk in ons kombuiskaste te kan plaas,” het Ruth Henriquez, hoof van verbruikersprodukte en uitgewery van Mattel, in ʼn verklaring gesê.

Volgens Mattel word beetekstrak gebruik om die sous daardie kenmerkende Barbie-pienk kleur te gee. Heinz stel voor dit word gebruik om “ʼn burger of kraakvars slaai op te kikker”, beide letterlik en figuurlik.

Maroela Media het vroeër berig dat die verpakking van die Suid-Afrikaanse Ouma-beskuit ook verlede jaar tydelik pienk geverf is.

Dié geliefde handelsmerk het in Augustus 2023 ’n foto op sy amptelike Instagram-blad gedeel van die tydelike nuwe verpakking van sy tradisionele gesnyde beskuit, waarop die woorde “Ek lyk goed in pienk” in pienk letters gepronk het.

Ouma-beskuit se ‘Barbie ouma’. (Foto: Ouma Rusks/Facebook)

Dié verpakking was ook net vir ʼn beperkte tyd beskikbaar en het sosiale media behoorlik laat gons, veral oor die voorkoms van die “ouma”.

Dié bejaarde vrou se blink, pienk langmouhemp, bonkige pêrelhalssnoer en rooi lipstiffie het omtrent aandag getrek en vir kommentaar soos “Ouma Barbie, hoe mooi!” en “Uiteindelik, ʼn gesig by die naam!” gesorg.

Bronne: CBS News, BBC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nommer 7 ·

Barbie is 65, maar Barbie ouma lyk na 85. Miskien is die bemarkingspan almal jonger as 25, wat 65 as stokoud en bejaard beskou. Deep Purple se lede is in hul laat 70’s, en rock nogsteeds. So ook Uriah Heep, Rolling Stones, Golden Earing…….!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.