Beethoven se hare opgeveil

ʼn Lok van die wêreldberoemde komponis Ludwig van Beethoven se hare wat deur Sotheby’s opgeveil word. (Foto: Sotheby’s Inc.)

ʼn Lok van die wêreldberoemde Duitse komponis Ludwig van Beethoven se hare word vandag deur Sotheby’s in Londen opgeveil.

Volgens die afslaer het Beethoven in 1826 dié stukkie hare self aan die pianis Anton Halm gegee, net ʼn jaar voor Beethoven se dood. Volgens inligting op Sotheby’s se webtuiste is die stukkie hare met sygare vasgebind en word dit ten toon gestel in ʼn ovaalvormige raam uit die negentiende eeu.

Die waarde van die hare vóór die veiling is op tussen £12 000 en £15 000 beraam, maar teen vanoggend was daar reeds ʼn bod van sowat R525 000 (£28 000) gemaak.

Die regstreekse veiling begin om 11:30 (Suid-Afrikaanse tyd).

Halm en Beethoven het in 1815 ontmoet en het goed bevriend geraak aangesien Halm gereeld vir die komponis gespeel het. In 1826 het Halm glo vir Beethoven se faktotum, Karl Holz, gevra vir ʼn stukkie van Beethoven se hare wat Halm aan sy vrou, Maria, wou gee. Die haarlok het ʼn paar dae later arriveer, maar na bewering het Halm kort daarna die hare aan Beethoven gewys en dit het toe aan die lig gekom dat dit inderwaarheid bokhare was.

Beethoven was glo woedend dat sy vriend mislei is en het onmiddellik van sy hare afgesny en aan hom gegee.

Halm het dié verhaal aan Beethoven se biograaf, AW Thayer, vertel en die vertelling het deel gevorm van Thayer se aantekeninge wat uiteindelik opgeneem is in sy omvattende biografie oor Beethoven. Slegs die eerste drie volumes van die biografie is in Thayer se leeftyd gepubliseer, deur sy vriend Hermann Deiters tussen 1866 en 1879. Die vierde en vyfde volumes, wat deur Deiters en Hugo Riemann geredigeer is, is eers in 1907 en 1908 gepubliseer.

Danksy dié biografie het die verhaal van Beethoven se haarlok behoue gebly.

Sotheby’s het voorheen al haarlokke van Beethoven opgeveil wat op sy doodsbed in 1827 geneem is, maar dié lokke het deur die jare veryl tot ʼn enkele paar hare. Volgens die afslaer is dié haarlok wat vandag opgeveil word, die dikste lok nóg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wat nog ·

Ek het nou al alles gehoor en gelees. So mors ek nie my geld nie.

Charles ·

Ludwig van Beethoven = Maestro en geniaal- vir alle tye. Sal sommer $1,000000 vir ‘n haarlok betaal het (as ek die geld gehad het;)

Diefie ·

Wie sê dit is Beethoven se hare. Nou bevestig dit net weereens, die mensdom is gek. Om vir ‘n nuttelose haar so baie betaal. Meer geld as verstand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.