Beiroet-ontploffing: Hoop op oorlewendes vervaag

Flash is ‘n lid van die Chileense soek-en-reddingspan. (Foto: Twitter)

Mense oor Libanon heen het Vrydagaand ʼn oomblik van stilte gehandhaaf om een maand sedert die dodelike Beiroet-ontploffing te gedenk, terwyl reddingswerkers steeds deur die puin soek in die hoop om ʼn oorlewende te vind.

Die ontploffing op 4 Augustus het 191 lewens geëis, sowat 6 000 mense is beseer en Libanon, wat reeds steier onder ʼn ernstige ekonomiese krisis en finansiële ineenstorting, in rou gedompel.

Die soektog in die geskiedkundige Mar Mikhail-gebied – ʼn straat wat eens gewemel het van besoekers aan kroeë en restaurante – het die land veral die afgelope 24 uur aangegryp. Die moontlikheid, hoe skraal ook al, dat ʼn oorlewende ná ʼn maand gevind kan word, het mense op ʼn wonderwerk laat hoop.

Ons gaan nie vergeet nie en ook nie vergewe nie. Libanese is woedend oor die ontploffing. (Foto: Twitter)

Die operasie het Donderdag begin nadat Flash, ʼn soek-en-reddingshond wat ʼn Chileense soekspan inspan, op iets gereageer en na die puin gestorm het. Reddingswerkers het hyskrane, grawe en hul kaal hande gebruik om deur die puin te grawe nadat ʼn polsende sein opgevang is. Dit kon moontlik op ʼn oorlewende se hartklop dui.

Die vyfjarige Flash, geklee in rooi skoentjies om sy pote te beskerm, het die land se verbeelding aangegryp. Mense het hom bedank en gesê hy gee meer om vir die Libanese as hul eie regering.

Naby dit wat ná die ontploffing van Beiroet se hawe oorgebly het, is ʼn gedenkdiens vir slagoffers gehou. ʼn Wit roos is neergelê vir elk van die 191 slagoffers en om presies 18:06, die oomblik van die ontploffing, het stilte neergedaal.

Reddingswerkers soek Vrydag opnuut deur die puin met die hoop dat ‘n oorlewende gevind sal word. (Foto: Hussein Malla/AP)

Kerkklokke het daarna gelui, moskees het ʼn oproep om gebede gedoen en ambulanse het gelyktydig hul sirenes laat loei. Sommiges het stil gehuil. Ander het toue wat in lusse geknoop was, vasgehou – ʼn teken van die rou en blinde woede wat jeens amptenare in die land heers.

Die ontploffing is veroorsaak toe sowat 3 000 ton ammoniumnitraat wat jare lank onbehoorlik geberg is, ontplof het. Benewens die oorledenes en beseerdes is duisende huise beskadig.

Altesaam 191 mense het in die ontploffing omgekom. (Foto: Twitter)

Dis steeds onduidelik wat presies die ontploffing veroorsaak het. Mense pak die skuld op korrupsie en die nalatigheid van die Libanese politici, veiligheids- en regeringsamptenare van wie talle van die chemikalieë geweet het, maar niks daaraan gedoen het nie.

“Ons hou julle aanspreeklik,” het een banier gelui.

BBC het intussen berig die hoop vervaag dat enigiemand wel lewend onder rommel gevind gaan word. Drie tonnels is gegrawe na die plek waar die polssein gehoor is, maar teen Vrydagaand het die Chilene hul soektog opgeskort sonder dat ʼn oorlewende of selfs ʼn liggaam gevind is. Hulle sou Saterdagoggend die soektog hervat.

Die Chileense span is deel van die Los Topos-hulporganisasie, wat ook in 2010 gehelp het met die redding van 33 Chileense mynwerkers wat meer as twee maande lank ondergronds vasgekeer was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Flash….kom Suid Afrika toe in jou rooi skoentjies, en kom gee vir die mense van die land om, want die ANC regering gee nie ‘n damn om nie! Miskien die volgende keer wat ons protesteer teen plaas moorde, moet ons almal rooi handskoene dra?

Termiet ·

Wel gedaan jou praghond en die mense wat jou so mooi oppas.

Daleen ·

Om sulke positiewe artikels te lees waar diere betrokke is maak my hart sommer warm klop. NB: EK GEBRUIK DIE PLATFORM WANT WIL NET GRAAG MAROELA SE REAKSIE/ANTWOORD HOOR – WAAR IS AL DIE KOMMENTARE EN DIE KOMMENTAAR OPSIE VAN DIE CLICKS ARTIKEL. EEN OOMBLIK DAAR VOLGENDE OOMBLIK WEG. HOEKOM!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.