Bekende foto’s van maanlanding opgeveil

Die bekende Buzz Aldrin-foto. (Foto: Bruun Rasmussen auction house)

Die wêreldbekende foto van Buzz Aldrin wat op die maan loop is Woensdag in Kopenhagen, Denemarke, opgeveil.

Meer as 70 van Nasa se oorspronklike foto’s van die eerste maanlanding is ook op dié veiling verkoop.

Die foto van Aldrin, wat deur Neil Armstrong geneem is, is eindelik vir €5 373 (byna R90 000) opgeveil.

Dié foto wys die ruimtevaarder wat in Julie 1969 op die oppervlak van die maan loop tydens die eerste bemande maanlanding. Armstrong, die eerste man wat op die maan gestap het, kan in die weerkaatsing van Aldrin se gesigskerm gesien word.

Altesaam 74 van Nasa se foto’s is eindelik te koop aangebied, insluitend 26 wat tydens die Apollo-sending in die 1960’s en 1970’s op die maan geneem is.

“Ons het daarin geslaag om 73 van die 74 foto’s te verkoop,” het die Bruun Rasmussen-afslaer aan AFP gesê.

Nasa se oorspronklike foto’s is gesamentlik teen meer as €155 000 (meer as R2,5 miljoen) verkoop. Die versameling is na raming eintlik €190 000 (meer as R3,1 miljoen) werd.

Die hele versameling is deur ʼn buitelandse versamelaar, wat verkieslik anoniem wil bly, te koop aangebied.

Die waardevolste foto is Earthrise wat deur die Amerikaanse ruimtevaarder William Anders geneem is. Dié foto is in Desember 1968 aan boord van Apollo 8 geneem terwyl die vaartuig om die maan gewentel het. Dit is vir €11 800 (byna R200 000) verkoop.

Die laaste keer wat ʼn mens op die maan gestap het, was in 1972 tydens die Apollo 17-sending.

Nasa beplan egter om weer teen 2025 ruimtevaarders na die maan te stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Emile ·

As mens die geld het kan jy seker maar besluit wat om daarmee te maak

groenboer ·

Heeltemal korrek: hulle het Stanley Kubrick, regisseur van “2001: A Space Odyssey” gekry om die hele ding te maak. Hy is toe so perfeksionis hy het daarop aangedring om die fliek in al die korrekte, outentieke plekke te skiet waar die aksie veronderstel is om plaas te vind…

andre ·

50 jaar later sukkel hulle om weer op die maan te land . Die foto moes eintlik n miljoen dollar gehaal het.

Johan ·

Waar is die sterre in die foto? Hoekom net n swart agtergrond?

Boertjie ·

Johan, as jy ‘n websoekenjin gebruik, sal jy heelwat webwerfadresse kry (My soektog om die statistiek te bepaal het 260 000 resultate gelewer) wat die hele rede mooi verduidelik. Gebruik die frase “Why can’t you see stars on the moon”.

Marthinus W ·

20 Julie 1969 was my sewende verjaardag. Tot vandag toe is ek diep geinteresserd oor ruimtevaart. In die fliek Space Cowboys kla die karakter van Clint Eastwood dat hy wou selfmoord pleeg oor Apollo 11 se landing, omdat hy nie die geleentheid gekry het om die ruimte in te gaan nie. Buzz Aldrin, op die foto, se mislike pa het met hom baklei, dat hy n swakkeling was, wat toegelaat het dat Neil Armstrong, en nie hy nie, eerste op die maan loop. Buzz was so slim dat hy die rekenaar kon reghelp as n fout gemaak word, maar Neil was die bevelvoerder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.