Beraad oor aappokke kom

’n Partikel van die aappokkevirus tydens ’n uitbreking onder prêriehonde in 2003. (Foto: AFP)

Die Verenigde Nasies (VN) se gesondheidsliggaam het Dinsdag aangekondig dat hy volgende week ’n noodberaad sal hou om te bepaal of die globale uitbreking van aappokke as ʼn openbare gesondheidsnoodgeval van internasionale belang geklassifiseer moet word.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Woensdag gesê Europa bly die episentrum van dié uitbreking nadat 1 500 gevalle in 25 lande aangemeld is. Die Europese Unie het Dinsdag aangekondig dat hy byna 110 000 dosisse entstof gekoop het om die uitbreking te takel, hoewel die WGO nie massa-inenting teen aappokke aanbeveel nie.

“Die WGO se Europese streek bestaan ​​uit 53 lande, waaronder verskeie in Sentraal-Asië. Die omvang van hierdie uitbreking hou ’n werklike risiko in. Hoe langer die virus sirkuleer, hoe meer sal sy reikwydte uitbrei, en hoe sterker sal die siekte se vastrapplek in nie-endemiese lande word,” het Hans Kluge, die WGO se streeksdirekteur vir Europa, Woensdag op ’n mediakonferensie gesê.

Voor die afgelope paar maande was pokke oor die algemeen tot Wes- en Sentraal-Afrika beperk.

Die meerderheid gevalle is egter nou in Europa aangemeld terwyl die grootste oorsaak van oordrag steeds weens seksuele aktiwiteite onder mans is. Maroela Media het vroeër berig dat aappokke egter nie ʼn seksueel oordraagbare siekte is nie.

Kluge waarsku verder teen stigmatisering en beklemtoon dat aappokke nie op sigself aan enige spesifieke groep gekoppel kan word nie.

Die risiko vir oordrag neem boonop toe namate die somer in Europa aanbreek en meer toeriste verwag word en vanweë “verskeie Pride-geleenthede, musiekfeeste en ander massa-byeenkomste reg oor die streek beplan word”.

Hy meen aappokke is egter nie ʼn rede om hierdie geleenthede te kanselleer nie, en dat die WGO die geleentheid sal benut om hul betrokkenheid te bevorder.

Steve Taylor, direkteur van die European Pride Organisers Association, het tydens die konferensie gesê dat sowat 750 Pride-geleenthede reg oor die Europese streek beplan word en het die WGO se aanbeveling verwelkom dat dié geleenthede nie afgestel moet word nie.

Taylor sê sommige mense wat Pride-geleenthede teenstaan, het reeds probeer om aappokke as ʼn regverdiging te gebruik in oproepe om dié geleenthede te verbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marius ·

Die wgo moet ontbind word. Hul is net goed om wolf – wolf te speel.

annie ·

Die WGO dink glo nou aan ‘n nuwe naam vir die nuwe kwaal aangesien daar reeds stemme opgaan as sou dit menseregte skaad. Mens sou dink dat ape eerder moet kla, maar as iemand pyn beleef weens die benaming moet dit dalk eerder ‘n mooi nommer kry in pienk gedruk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.