Betogings oor vrou se dood in aanhouding eis reeds agt

Die betogings het tot in Turkye uitgekring. (Foto: Ozan KOSE / AFP)

Minstens agt mense is reeds dood in betogings die afgelope paar dae in Iran oor ’n jong vrou wat in aanhouding dood is.

Mahsa Amini (22) is verlede week in ’n hospitaal dood nadat sy deur die berugte moraliteitspolisie in hegtenis geneem is omdat sy glo haar hidjab-hoofbedekking op ’n “onbehoorlike” manier gedra het.

Nou brand talle Iranse vroue hul hidjab-kopdoeke uit verset voor juigende skares mans en vroue.

Betogings duur al vyf dae lank in dié land en skares van tot  ʼn duisend mense word met traangas verjaag terwyl honderde betogers reeds in hegtenis geneem is.

Dít volg nadat Amini, ’n Koerdiese vrou van die noordwestelike stad Saqez, verlede week in ’n koma verval het nadat sy in hegtenis geneem en in aanhouding geplaas is omdat sy glo Iran se hidjab-wette oortree het.

BBC berig Amini was saam met haar broer in die Iranse hoofstad Teheran toe sy deur die moraliteitspolisie in hegtenis geneem is. Sy het kort daarna by ’n aanhoudingsentrum inmekaargesak en drie dae lank in ’n koma deurgebring voordat sy eindelik Vrydag dood is.

Dit word nou beweer dat polisiebeamptes Amini met ’n knuppel oor die kop geslaan en haar kop teen een van hul voertuie gestamp het. Die polisie ontken egter dié bewerings ten sterkste en sê Amini het skielike hartversaking opgedoen.

Haar familie hou egter vol sy was blakend gesond.

Die betogings het tot in Turkye uitgekring. (Foto: Ozan KOSE / AFP)

“Nee vir die kopdoek, nee vir die tulband, ja vir vryheid en gelykheid!” het betogers Dinsdag in Teheran gedreunsing.

Betogers het die afgelope paar dae veiligheidsmagte met klippe bestook, polisievoertuie en vullisdromme aan die brand gesteek en teen-regeringslagspreuke gesing.

Betogings heers tans in verskeie stede, waaronder Mashhad, Tabriz, Isfahan en Shiraz.

Video’s het intussen die lig op sosiale media gesien waarin gesien kan word hoe veiligheidsmagte op betogers in die suidelike stad Shiraz losbrand.

Die Verenigde Nasies, die VSA, Frankryk en ander lande het reeds Amini se dood en Iran se reaksie op die betogings veroordeel.

Die betogings is van die ergste in Iran sedert November 2019 se onrus oor brandstofprysstygings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

In 1979 het hulle gecheer vir Khomeni, met kopdoeke en al

Delia ·

Sy was toe nog nie gebore. Dis ligjare ver weg toe vroue oraloor nog beskou was as besittings

Jaco ·

Vreemd dat, toe die laaste Shah van Iran die dra van dié kopdoeke gestop het, hy sleggemaak is en uiteindelik uit Iran weggejaag is.

Annelize ·

Ja, dis omrede in daardie geweste van die wereld, ‘n vrou van minder waarde as ‘n deurmat is. Sy is natuurlik, soos die berig ook noem, erg aangerand, en natuurlik sal dit nou op die hoogste vlak ontken word, want dis mos maar net ‘n stuk nikswerd vrou. Niemand verval net in ‘n koma vir geen rede nie.

Delia ·

As n lykskouing die hartversaking uitgewys het, het hulle dan die aamrandingsmerke seker misgekyk of het die polisie n mediese diagnose gemaak.

Treurwilger ·

Tragiese geval van hierdie jong meisie.

Vreemd hoe dié vrouens in Westerse lande tog volhou met die dra van die kopdoeke, en selfs die swart gewade waar net die oë se blink deur ‘n skrefie verraai dat daar ‘n mens binne-in is. Grillerig.

Jixy ·

Dit was my gedagte ook. Ek weet nie veel van hierdie onderwerp nie, maar ek het gewonder of die dames hier sal aanhou om die kopdoeke te dra indien hierdie betogings suksesvol is. Ek dink ek moet bietjie gaan oplees hieroor om dit te verstaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.