Bewustelose Russiese afvallige kom in Duitsland aan

‘n Bewustelose Alexei Navalny word op ‘n draagbaar van die vliegtuig afgetel nadat dit in Berlyn geland het. (Foto: Michael Kappeler/dpa via AP)

Die Russiese afvallige Alexei Navalny, in ʼn koma nadat hy vermoedelik vergiftig is, het Saterdag in Berlyn aangekom nadat hy van Siberië daarheen gevlieg is. Spesialiste in dié land sal hom nou behandel.

Navalny het kort ná 09:00 Saterdag by die Tegel-lughawe geland wat gewoonlik vir staat- of weermagvlugte gebruik word. Hy is daarna met ʼn ambulans na die Charité-hospitaal geneem.

“Hy het die vlug oorleef en is in ʼn bestendige toestand,” het Jaka Bizilj, van die Duitse organisasie Cinema for Peace, gesê. Die groep het Navalny se vlug na Duitsland gereël.

Die hospitaal het later in ʼn verklaring gesê omvattende toetse word op Navalny gedoen en dokters gaan nie op sy siektetoestand of behandeling kommentaar lewer tot die toetse afgehandel is nie.

Navalny, ʼn politikus en korrupsie-ondersoeker, is een van die Russiese president Wladimir Poetin se felste kritici. Hy is Donderdag in die intensiewe sorgeenheid van ʼn hospitaal in Omsk in Siberië opgeneem. Die vermoede bestaan dat hy vergiftigde tee gedrink het – en dat die Kremlin verantwoordelik is vir sy toestand en die vertraging van sy vlug na Duitsland.

Die Omsk-streek se gesondheidsowerheid het Saterdag in ʼn verklaring egter gesê die toetse wat reeds gedoen is, het nog geen aanduiding van vergiftiging gegee nie. Daar was wel tekens van alkohol en kaffeïen.

Alexei Navalny

Duitse medici kom in Omsk aan. (Foto: Evgeniy Sofiychuk/AP)

Bizilj, ʼn rolprentvervaardiger, het gesê hy het nie die kennis om te sê hoe Navalny siek geword het nie, maar dat dit “duidelik is dat iets verskriklik gebeur het”.

“Hy is sterk man met ʼn gesonde gestel. Die aand voor die aanval het hy in ʼn rivier geswem,” het Bizilj gesê.

“Dit was duidelik ʼn aanslag op sy lewe. ʼn Gesonde man se lewe was skielik in gevaar. Hy kon dood gewees het en kan moontlik steeds [weens die siekte] sterf.”

Toe Duitse spesialiste aan boord van ʼn vliegtuig met gespesialiseerde mediese toerusting Vrydagoggend op versoek van sy gesin in Omsk aangekom het, het dokters daar aanvanklik gesê Navalny se toestand is te onbestendig om toe te laat dat hy vervoer word.

Navalny se ondersteuners het dit as ʼn plan deur die owerhede bestempel om tyd te wen tot enige gif wat moontlik in sy liggaam was, nie meer opgespoor kon word nie. Die mediese span in Omsk het eers bes gegee nadat die organisasie wat die vlug gereël het, aangekondig het Duitse dokters het Navalny óók ondersoek en bevind dit is veilig om hom te vervoer.

Die adjunkhoofdokter van die Omsk-hospitaal, Anatoly Kalinichenko, het aan verslaggewers gesê Navalny se toestand het verbeter en dokters “gee nie om” om hom oor te plaas nie, solank sy naasbestaandes bereid is om die “risiko’s verbonde daaraan” te aanvaar.

Die Kremlin het ontken dat die aanvanklike teenkanting teen Navalny se vervoer ʼn politieke stap was en het volgehou die besluit is op mediese gronde geneem.

Alexei Navalny in 2019. (Foto: Alexander Zemlianichenko/AP)

Die ommeswaai het wel gekom terwyl druk op Russiese leiers oor die kwessie opgelaai het.

Frankryk en Duitsland het Donderdag al gesê hulle is gereed om enige hulp aan Navalny en sy gesin te verleen en het aangedring op ʼn ondersoek na die verloop van gebeure.

Navalny is die bekendste lid van Rusland se opposisie en wou Poetin in 2018 ontsetel, maar is verbied om aan die verkiesing deel te neem. Hy het sedertdien opposisiekandidate in streeksverkiesings help bevorder.

Sy stigting lê korrupsie van staatsamptenare tot op die hoogste vlak bloot, maar hy moes die organisasie se deure verlede maand sluit ná ʼn vernietigende hofsaak deur ʼn sakeman met noue bande met die Kremlin.

Westerse toksikologiekenners het reeds hul twyfel uitgespreek dat vergiftiging so vinnig deur die Russiese medici uitgesluit is.

Soos talle ander opposisielede in Rusland, is Navalny al dikwels deur wetstoepassers aangehou en deur pro-Kremlin-groepe geteister. In 2017 het ʼn groep mans hom met ʼn antiseptiese middel in die gesig gegooi en een van sy oë beskadig.

Verlede jaar is Navalny ook na ʼn hospitaal gehaas terwyl hy in aanhouding was vir oortredings van betogingsregulasies. Sy span het toe ook vermoed dat hy vergiftig is. Dokters het bevind hy het ʼn ernstige allergiese reaksie gehad en het hom die volgende dag terug tronk toe gestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Yvonne ·

Here wees die man genadig en beskerm hom teen die wat sy lewe eis

Elsabe ·

Die kelner wat die tee bedien het, moet ondervra word. Dit word dalk reeds gedoen, maar ons ken ook mos nou hoe die dinge werk.

Pieter ·

Putin = KGB.

Putin = ANC bondgenoot en verpleër van adj. Pres. David Mabuza.

Another BRICKS in the wall

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.