Beyoncé, Adele neem voortou met Grammy-benoemings

Beyonce. (Foto: Evan Agostini/Invision/AP, File)

Harry Styles, Adele, Beyoncé, Taylor Swift en Abba is maar van die kunstenaars wat die benoemingslys vir die 65ste jaarlikse Grammy-toekennings gehaal het.

Dié lys is Dinsdag deur die Recording Academy bekend gemaak en die toekenningsgeleentheid sal op 5 Februarie in Los Angeles plaasvind.

Beyoncé, wat ’n allemintige nege benoemings vanjaar ontvang het, ding mee met kunstenaars soos Kendrick Lamar se agt benoemings en Adele en Brandi Carlile se sewe elk.

Beyoncé, wat reeds die vrou is met die meeste Grammy-toekennings in die sakkie, is nou kop aan kop met haar man, Jay-Z, vir die kunstenaar met die meeste Grammy-benoemings. Dié egpaar spog elkeen met 88 benoemings.

Harry Styles het ook ses benoemings ontvang, onder meer vir die beste liedjie van die jaar (“As it was”), album van die jaar (Harry’s House) en vir beste pop solo-optrede. Lizzo, Adele en Doja Cat is ook vir dié toekenning benoem.

Björn Ulvaeus, Agnetha Fältskog, Anni-Frid Lyngstad en Benny Andersson. (Foto: ABBA Voyage/Instagram)

ABBA het vanjaar vier benoemings vir hul album Voyage ontvang. Die musiekgroep Måneskin, wat nes ABBA bekendheid op die Eurovision-verhoog verwerf het, is ook vanjaar vir beste nuwe kunstenaar benoem.

Daar is vanjaar ’n splinternuwe Grammy-toekenning om los te slaan: Die beste liedjie vir sosiale verandering.

“Ons het gevoel dat dit ’n wonderlike geleentheid is om die kollig op musiek en liedjies te laat val wat verandering, bewustheid en sosiale verantwoordelikheid meebring,” het Harvey Mason Jr., die uitvoerende hoof van die Recording Academy, oor die nuwe kategorie gesê.

’n Aanhanger-gunsteling, Taylor Swift, het vier benoemings ontvang vir liedjie van die jaar, beste country-liedjie, beste liedjie geskryf vir visuele media en die beste musiekvideo.

Haar splinternuwe album, Midnights, het nie vir die jongste Grammy-seisoen gekwalifiseer nie. Volgens die Recording Academy se riglyne, word musiek wat tussen Vrydag 1 Oktober 2021 en Vrydag 30 September 2022 uitgereik is, in ag geneem vir die 65ste Grammy-toekennings. Aangesien Midnights op 21 Oktober vanjaar uitgereik is, sal dit eers vir die 2024-toekennings in ag geneem word.

Die rolprente Encanto, ELVIS en Top Gun: Maverick is vir die beste saamgestelde klankbaan vir visuele media benoem. Die vierde seisoen van die Netflix-trefferreeks Stranger Things is ook vir die prys benoem.

  • Besoek hierdie webwerf vir die volledige benoemingslys vir die 65ste Grammy-toekennings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.