Bitcoin bereik rekordhoogte

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Ozan KOSE / AFP)

Bitcoin het Woensdag teen ʼn rekordbedrag van meer as $66 000 (meer as R950 000) verhandel.

Die rekord word toegeskryf aan ʼn nuwe bitcoin- beursverhandelde fonds (ETF) – ʼn soort finansiële instrument – wat Dinsdag op die New Yorkse aandeelbeurs bekend gestel is.

Die aankondiging het tot ʼn stormloop in die vraag na bitcoin gelei en het die waarde van die kripto-geldeenheid tot ʼn rekordhoë $66 976 (sowat R967 000) in Londen laat styg.

“Die nuutgevonde belangstelling in bitcoin het gehelp om die kripto-geldeenheid tot ʼn nuwe rekordhoogte te bring,” het Michael Hewson, ontleder van CMC Markets, Woensdag gesê.

Die nuwe termynbeursfonds is ʼn meer toeganklike voertuig wat bitcoin binne die bereik van selfs nog meer beleggers plaas. Dit voer bitcoin volgens Hewson “na die volgende vlak”.

Die bitcoin-strategie- beursverhandelde fonds (ETF) het op sy eerste handelsdag Dinsdag met byna 5% verstewig.

Die waarde van bitcoin self het die afgelope maand met meer as 50% toegeneem en met ʼn verstommende 450% die afgelope jaar gestyg.

Daar is nou boonop sprake daarvan dat vandeesweek se gebeure tot gevolg kan hê dat bitcoin binne die komende maand tot $100 000 (sowat R1,4 miljoen) kan verhandel.

“Gegewe die prysmomentum wat ons ná bitcoin se ETF sien, glo ons dat bitcoin teen die einde van hierdie jaar maklik tot $100 000 kan klim,” sê Naeem Aslam, ʼn ontleder van AvaTrade.

Craig Erlam, ʼn ontleder van Oanda, het egter aan AFP gesê beleggers behoort steeds versigtig met hul beleggings om te gaan.

“Die ETF is ʼn ongelooflik belangrike stap om hoofstroombeleggers aan boord te kry. Dit is egter nie te sê daar sal skielik hope belangstelling in bitcoin wees nie. Dit is steeds ʼn hoogs spekulatiewe en onbestendige instrument.

“Maar dit is ʼn stap in die regte rigting vir ʼn bateklas wat werklik institusionele aanvaarding benodig,” meen Erlam.

Bitcoin het in April vanjaar sy vorige rekordhoogte van $64,870 (meer as R930 000) behaal voordat dit in Mei weer getuimel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Herman ·

Hy mag styg tot $100 000 of val tot $10 000. Jy kan nie werk op n “mag dalk” nie.

Martie Smartie ·

Herdie borrel gaan nog bars en al wat gaan oorbly sal miljoene bits wees. Dit was nog altyd so met iets wat niks is waaraan denkbeeldige waarde geheg is. Die idee is soveel werd net omdat dit ongereguleer is en dit word al hoe wyer gereguleer. Sodra die meeste regerings hulle vuil vraatsige pootjies op die sisteem het, sal meeste groot beleggers verkoop en die hele idee gaan in duie stort. Merk my woorde. Intussen kan mens lekker geld maak, so mens moet skep terwyl dit pap reen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.