Bloedige oorlog in Gaza hervat

Rook trek weer Vrydag uit Gaza.(Foto: John MACDOUGALL / AFP)

Die wapenstilstand het verstryk en Israel en Hamas voer weer oorlog.

Gevegte het Vrydagoggend ná ’n week lange wapenstilstand hervat nadat die wapenstilstand nie voor 07:00 verleng kon word nie.

Nie minder nie as 29 sterftes is binne enkele ure na die hervatting van gevegte aangemeld, aldus die Hamas-beheerde departement van gesondheid in Gaza.

Volgens die kantoor van Israeliese premier Benjamin Netanyahu is gevegte voortgesit nadat Hamas die wapenstilstand “geskend” het.

“Die regering van Israel is daartoe verbind om die doelwitte van die oorlog te bereik: Die vrylating van die gyselaars, die uitroei van Hamas en om te verseker dat Gaza nooit weer ’n bedreiging vir die inwoners van Israel inhou nie,” het die kantoor gesê.

ʼn Bron na aan Hamas het aan AFP gesê die groep se gewapende vleuel het “die bevel ontvang om gevegte te hervat” en om “die Gaza-strook te verdedig” met hewige gevegte wat in dele van Gaza‑stad aangemeld is.

Die “oorlog het teruggekeer, selfs hewiger”, het ’n burgerlike genaamd Anas Abu Dagga (22) by ’n hospitaal in die suide van Gaza aan AFP gesê.

’n Regstreekse uitsending van AFPTV het Vrydag gewys hoe ’n groot grys wolk uit die noorde van Gaza trek. Israel se weermag het intussen gesê dat sy oorlogsvliegtuie na Hamas-teikens in Gaza ontplooi is.

Joernaliste van AFP het ook bomaanvalle in die noorde en suide aangemeld.

Antonio Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN), het Vrydag gesê hy is spyt dat militêre operasies weer in Gaza begin het. “Ek hoop steeds dat dit moontlik sal wees om die pouse wat vasgestel is, te hernu. Die terugkeer na vyandelikhede wys net hoe belangrik dit is om ʼn ware humanitêre wapenstilstand te hê,” het Guterres op X gesê.

“Die hervatting van vyandelikhede in Gaza is katastrofies,” het Volker Turk, die VN se menseregtehoof, gesê. “Ek doen ʼn beroep op alle partye en state met invloed oor hulle om onmiddellik pogings te verdubbel om ʼn wapenstilstand te verseker – op humanitêre en menseregtegronde.”

Hamas het tydens die sewe dae lange wapenstilstand 80 Israeliese gyselaars bevry in ruil vir 240 Palestynse gevangenes. Nog 25 gyselaars, meestal Thais, is ook buite die bepalings van die wapenstilstandooreenkoms bevry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

GWS ·

Ai, oorlog bly maar lelik. Ek bid vir vrede en verdraagsaamheid. Nie net in Gaza nie, maar ook in Okraïne.

Tewis ·

So toe word daar weer deur hamas vuurpyl geskiet gedag hulle voel iets vir die Palesteine wat ń grap!!
Weer net bewys dat hulle wel ń teroristiese lot is.

Schalk ·

Ongelukkig is geen oorlog speletjies nie, Hamas het gewys dat hulle geen respek vir lewe het nie, nog minder vir vrede. Ek is eerlik en dankbaar vir die gyselaars wat vry gelaat is. Ek dink Israel moet nou vasstrap en Gaza van die aardbol verwyder, en dit sê ek nie met minagting teenoor gewone eerlike burgers nie, maar as jy die dag nie jou vyand kan identifiseer nie, maak jy skoon. Indien jy vooraf gewaarsku word om uit die slagveld te kom en jy ignoreer die waarskuwing, dan stel jy jouself bloot, en die gevolge is minder aangenaam.

Nettie ·

Dankie Kosie. Ek’s dankbaar dat mense begin raaksien wat regtig aan die gebeur is, en dit begin noem. In die begin het al die kommentaar hier net geskree vir die totale uitwissing van Hamas en sommer Gaza en Palestinia. Noudat die bloed van duisende kinders gevloei het, hoop ek mense besef wat hulle ondersteun het.

Nicky ·

Kosie hulle is nie n burger mag nie gaan luister wat die seun van n hammes se op youtube, hulle is dieselfde as die Anc, bou niks breek net af en kan niks bou nie hy lewer n toespraak op Michigan university

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.