Brasiliaanse sokkerlegende Pelé sterf

Pelé (Fotosamestelling: Frank Hoermann/SVEN SIMON / dpa Picture-Alliance via AFP)

Die Brasiliaanse sokkerlegende Pelé, die enigste persoon wat drie keer as speler Wêreldbekerroem gesmaak het en allerweë beskou word as die beste sokkerspeler van alle tye, is Donderdag oorlede.

Die 82-jarige Pelé is ná ʼn lang stryd met kanker aan “veelvuldige orgaanversaking” dood, het die Albert Einstein-hospitaal in São Paulo Donderdag in ʼn amptelike verklaring gesê.

Medelye stroom sedertdien van regoor die wêreld in.

Die Brasiliaanse sokkerster Neymar sê Pelé het sokker in ʼn kunsvorm omskep. Frankryk se Kylian Mbappe sê Pelé se nalatenskap “sal nooit vergeet word nie” en Portugal se Cristiano Ronaldo het hom as ʼn “inspirasie vir miljoene” beskryf.

Pelé in 2016. (Foto: NEIL HALL / ANADOLU AGENCY / Anadolu Agency via AFP)

Die Brasiliaanse president, Jair Bolsonaro, het reeds drie dae van nasionale rou verklaar.

Pelé is die enigste sokkerspeler in die geskiedenis om by drie geleenthede Wêreldbekerglorie te smaak – in 1958, 1962 en 1970.

Hy het ook tydens sy loopbaan wat oor 21 jaar gestrek het ʼn wêreldrekord van 1 281 doele in 1 363 wedstryde aangeteken.

‘n Jong Pelé in 1961 (Foto: AFP)

ʼn Bejaarde Pelé het voor sy dood gesukkel met nierprobleme en kolonkanker waarvoor hy in September 2021 ʼn operasie gevolg deur chemoterapie moes ondergaan.

Pelé sal Dinsdag in Santos, die suidoostelike Brasiliaanse stad waar hy die grootste deel van sy loopbaan gespeel het, ter ruste gelê word.

Pelé tydens ‘n vriendskaplike wedstryd in 1990. (Foto: Gerard MALIE / AFP)

Die stad het reeds sewe dae van rou verklaar, terwyl aanhangers na die span se stadion stroom om blomme te laat ter ere van die sokkerlegende.

Emosionele Brasiliane het ook op die hospitaal toegesak waar Pelé gesterf het. Sommige het selfs 1,5 kilometer daarheen gehardloop nadat hulle die nuus oor sy dood ontvang het.

“Hy is ons grootste ikoon, die beste sokkerspeler van alle tye,” het die Brasilianer Antonio Perera buite die hospitaal aan AFP gesê.

  • Pelé is gebore as Edson Arantes do Nascimento maar het as kind die bynaam Pelé gekry vir sy verkeerde uitspraak van Bile, die naam van ʼn doelwagter by die sokkerklub Vasco de São Lourenco, waar sy pa voorheen gespeel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.