Brittanje gewaarsku oor hittegolf

Die rooi waarskuwing is vir die sentrale, noordelike, oostelike en suidoostelike dele van Engeland uitgereik. (Foto: Honzalo Facello/Unsplash)

Die Verenigde Koninkryk se meteorologiese agentskap het Vrydag sy eerste rooi waarskuwing vir buitengewone hoë temperature uitgereik nadat daar bevestig is dat Brittanje volgende week hemelhoë temperature van soveel as 40 ˚C kan verwag.

“Uitsonderlike en moontlik rekordhoë temperature word vir vroeg volgende week voorspel,” het Paul Gundersen, hoofmeteoroloog by die agentskap, gesê.

Daar is ʼn 50%-kans dat temperature Maandag of Dinsdag 40 ˚C sal oorskry wat dan die land se vorige rekord van 38,7 ˚C, wat in 2019 opgestel is, sal laat spat.

“Die aande sal waarskynlik ook buitengewoon warm wees, veral in stedelike gebiede,” het Gundersen gesê.

Die waarskuwing is vir die sentrale, noordelike, oostelike en suidoostelike dele van Engeland uitgereik.

Die agentskap het gewaarsku dat die hoë temperature ʼn wydverspreide impak op mense se gesondheid kan hê.

ʼn Rooi waarskuwing word gewoonlik uitgereik wanneer dit “hoogs waarskynlik is dat daar ʼn risiko vir die bedreiging van menselewens is asook aansienlike ontwrigtings ten opsigte van reis, energievoorrade en skade aan eiendom en infrastruktuur”.

Britse hospitale het reeds planne gereed om ʼn toename in hitteverwante opnames te hanteer en treinoperateurs het passasiers gewaarsku om kansellasies in die land se treindienste te verwag.

Hoewel uiterste temperature soos dié algemeen is in natuurlike klimaatvariasies, het die agentskap erken dat hy ʼn toename in dié soort verskynsels die afgelope paar dekades waargeneem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Dan gaan hulle seker ook vrek van die koue, die winter wat kom. En hulle het laaaaaang winters. En dit is ook hoekom ek net hier aan die Suid punt van Afrika bly. Kort winter en lekker laaaang somer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.