Camilla heet amptelik ‘koningin’ op kroningseremonie-uitnodiging

Koning Charles III en Camilla, die koningin-gemaal. (Foto: Hugo Burnand/Instagram/@TheRoyalFamily)

Camilla, die koningin-gemaal, heet nou vir die eerste keer “koningin Camilla” op die amptelike uitnodigings na haar en haar man, koning Charles III, se kroningseremonie wat op 6 Mei by Westminster-abdy in Londen sal plaasvind.

Buckingham Paleis het Dinsdag ʼn foto van dié handgeverfde ontwerp op hulle amptelike webwerf gedeel, asook ʼn nuwe amptelike foto van die koninklike egpaar.

Dié kleurvolle kaart is deur die heraldiese kunstenaar en manuskripbeligter, Andrew Jamieson, geskep en bevat ʼn helderblomrand en fyn ontwerpdetails wat die koning se persoonlikheid weerspieël.

Aldus Buckingham-paleis sluit simboliek onder meer die motief van die “Groen Man” in, ʼn antieke figuur uit Britse-folksverhale wat die lente, en daarmee saam die nuwe bewind van ʼn nuwe monarg se heerskappy, verteenwoordig.

Verskeie blomme wat aan die Verenigde Koninkryk geken word, is ook in drie’s gegroepeer, ʼn verwysing na die feit dat Charles die derde Britse-monarg met hierdie naam is.

Twee goue, saamgevlegte letter C’s, asook ‘n leeu, ‘n eenhoring perd en ‘n wildevark wat uit die wapens van die monarg en Camilla se pa, majoor Bruce Shand, geneem is, kan tussen dié blomme gesien word.

Die amptelike uitnodiging na Koning Charles III en Camilla, die koningin-gemaal, se kroningseremonie. (Foto: Buckingham-paleis)

Volgens die paleis is Jamieson se ontwerp ook op herwinde papier, wat waarskynlik simbolies van die koning se belangstelling en fokus op omgewingsvriendelikheid is, gedruk en na sowat 2 000 gaste wêreldwyd uitgestuur.

Koning Charles het as kind sy eie persoonlike uitnodiging na sy ma, koningin Elizabeth II, se kroningseremonie gekry. (Instagram/@TheRoyalFamily)

Onder dié bekende gaste is die Amerikaanse president Joe Biden, die koninklike familie van Monaco, asook die koning se seun, prins Harry en sy vrou, Meghan Markle.

Maroela Media het vroeër berig dat die egpaar nog nie bevestig het of hulle op 6 Mei by ander lede van die koninklike familie vir dié geskiedkundige gebeurtenis sal aansluit nie.

Die BBC berig dat beide die koning en die koningin-gemaal se kleinkinders spesiale rolle tydens die kroningseremonie sal speel.

AFP berig verder dat posseëls met die beeld van koning Charles III sedert Dinsdag amptelik by die Britste-posdiensmaatskappy, die Royal Mail, te koop is.

Die monarg se posseëlportret is ʼn aangepaste weergawe van een wat deur die Britse beeldhouer Martin Jennings vir die nuwe Britse munte geskep is en sal nou op alle Royal Mail-posseëls verskyn.

Koning Charles III se amptelike posseël. (Foto: @Royalmailofficial/Instagram)

Kleinhandelaars sal voortgaan om bestaande seëls met wyle koningin Elizabeth II op te verkoop en sal van die nuwe weergawe voorsien word wanneer die voorraad opraak, aldus AFP.

Bronne: BBC, AFP, Buckingham Palace.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Bulkalf ·

Los tog die man, jy kan sien hy’s gelukkig en lief vir sy vrou.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis sy partie en hy kan huil as hy wil.

Annelize ·

Charles en Camilla moes desjare gelos geword het om te trou, toe hulle eerste keer ‘n paartjie was. Was dit nie vir die “medling” howelinge en sy Ouma nie, was hulle dalk van die begin af getroud en gelukkig, en het Diana dalk ook ‘n kans op ware geluk gehad saam met iemand anders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.