China beperk kinders se aanlyn speletjies tot drie ure per week

Argieffoto (Foto: Pixabay)

China het Maandag ʼn drastiese beperking aangekondig tot die tyd wat kinders aanlyn speletjies mag speel. Kinders word beperk tot drie ure per week tydens die skoolkwartaal in die land, een van die wêreld se grootste aanlynspeletjiesmarkte.

Enigiemand jonger as 18 mag slegs tussen 20:00 en 21:00 op Vrydae, Saterdae en Sondae aanlyn speel, het die staatsnuusagentskap Xinhua gesê. Dit word beskryf as ʼn poging om die verslawing hok te slaan in ʼn speletjiesmal-land.

Jy sal ook jou ID-kaart moet gebruik wanneer jy registreer om aanlyn te speel, om seker te maak dat minderjariges nie jok oor hul ouderdom nie.

Kinders sal tydens vakansies bietjie langer mag speel, met ʼn beperking op 60 minute per dag.

“Speletjieverslawing het ʼn impak op studies en normale lewe. Talle ouers is raadop,” het die nasionale pers en publikasieadministrasie in ʼn verklaring gesê.

Maatskappye word ook verbied om speletjiesdienste buite dié ure aan te bied, alhoewel die verklaring nie bekendgemaak het hoe oortreders gestraf sal word nie.

ʼn Vorige beperking wat laat in 2019 ingestel is, het laatnag-speletjies verbied en ʼn verbod is ingestel van slegs 90 minute op weeksdae en drie ure oor naweke en vakansies.

Die bedryf het ʼn inkomste van sowat 130 miljard yuan (sowat R294 miljard) in die eerste helfte van die jaar ontvang, aldus die Chinese oudio-video en digitalepublikasie-vereniging.

Die Chinese tegnologiereus Tencent het in Julie ʼn “middernagpatrollie” gesigherkenningsfunksie van stapel gestuur om kinders te vang wat hulself as volwassenes voordoen om die regulasies te omseil.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Realis Thailand ·

As ek sien hoe my kleinkinders in SA en die kinders hier so speel en verslaaf is aan speletjies as ek my sin kry beperk ek dit tot so n uur n week of bv vir elke uur wat die kind fiieses buite speel dan n kwartier se speletjies .
Hier lyk dit vir my dat al wat werk aan n kind is die duime
Die euwel van my lewe die selfone en speletjies.

Althes ·

Dit kan dalk wees, maar ten minste weerhou dit hul van ander skadelike ontspanning wat ouers slapelose nagte gee.

Hannelie ·

Ek merk die afgelope paar jare op dat kinders nie meer graag wil skep nie, want die verbeelding werk nie meer nie. . Oogspan is definitief benadeel en lees word ‘n probleem. Ek vermoed dit is die gevolge van video-speletjies wat in die meeste gevalle te op ‘n te vroeë ouderdom toegelaat word, wanneer die kind se brein en sintuie nog moet ontwikkel.

KarooKnapie ·

Darem genoeg tyd vir een CSGO Comp match en so bietjie tyd om te oefen voor die tyd.

VaalDonkie ·

Ek speel Apex Legends. Vat my omtrent ‘n halwe seisoen om van Brons af tot by Platinum te kom want ek kry net so 30 minute per dag kans om te speel.

Belinda ·

Kan ons dit hier in SA ook kry asb. Ek glo kinders moet nog buite aan aktiwiteite deelneem, hul eie verbeelding gebruik en maats maak. Vandag se kinders sit voor die “kassie”en is glad nie gepla om vriendekringe te bou en buite te gaan om iets te doen nie. Hulle sal dan ook groter belangstelling he in hoe om goed te bou (met die hand) ens as wat hulle dit digitaal doen. Ek hou niks van video speletjies nie want ek glo dit bou geen sosiale verhoudings nie. Aanlyn speel hul met mense wat hul nooit ken of sien nie, en glo dis nie goed vir mens se geestes toestand nie. Ons het boomhuise gebou ens, vandag se kinders weet nie eens hoe om n spyker in hout te kap nie… of is te bang om seer te kry.

Botterblommetjie ·

Ek dink persoonlik, sommer oud en jonk… neem lewens, huwelike oor.. Dit beheer letterlik die mensdom..

Ferdi ·

‘n Regering van ‘n land behoort nie op so ‘n manier in mense se lewens in te gryp nie. Dis vir ouers om hierdie beheer toe te pas.

VaalDonkie ·

Presies. Net omdat iets ‘n goeie idee is, beteken nie dit moet ‘n wet wees nie.

Adelaide ·

My man is ‘n online gamer. Ek kan seker nie te veel kla nie, want hy suip nie, is nie kroegvlieg nie en behandel my met respek. MAAR dis moeilik om met iemand te kommunikeer wat elke aand na werk en die hele naweek met oorfone sit.

JohanR ·

Dankie tog ek kon kind wees buitekant die huis. Daar was cowboys, crooks, Indians, boom klim, albasters en goons speel, in die bos gaan stap, in die rivier swem, by maaitjies gaan kuier in die agtermiddag, of oor naweek oor slaap. Daar was nie kompers of tv…..ons moes ons eie vermaak maak en opdink. My Pa het naderhand vir my ‘n stel dromme gekoop want hy het gesien ek trom op alles, my bors, kaste, stoele mure eens, en na soe ruk het ek begin drom in Pa se boere oorkes. In Engels se mens “those were the days!”

VaalDonkie ·

Ek woon darem in ‘n lekker veilige buurt. Maar daar waar ek voorheen gebly het, wou ek nie eers as volwassene alleen rondloop nie. Veral nie hier so teen skemer se kant wanneer die skollies op patrollie was nie. Ek sou my kinders in hulle kamers toegesluit het as ek nog daar gebly het.

Danie ·

Hoe belaglik is dit. Hoekom moet die regering voorskryf? Hoekom is die ouers raadop? Jy as ouer het die speletjie vir jou kind gekoop, Dis JOU verantwoordelikheid om dit te beheer en as jy dit nie kan doen nie moet jy asb twee keer dink voordat jy nog kinders kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.