Cleo se ontvoering ‘opportunisties’

Cleo Smith (4) is Woensdag ná 18 dae deur polisie in Wes-Australië gevind. (Foto: Facebook / Western Australia Police)

Die Wes-Australiese polisie het Woensdag tydens ʼn nuuskonferensie gesê dat Cleo Smith (4) se ontvoering eerder ʼn opportunistiese as ʼn beplande voorval was.

Die kleuter is Woensdag omstreeks 01:00 (Australiese tyd) ongedeerd en alleen in ʼn geslote huis in die kusdorp Carnarvon gevind, nadat ʼn 36-jarige man ʼn dag vantevore op die polisie se radar verskyn het.

Die man was nie by die huis toe Cleo gered is nie.

Cleo is 18 dae gelede uit die tent wat sy met haar ouers en babasussie by die Blowholes-kampterrein gedeel het, ontvoer.

ʼn Video van die oomblik toe Cleo gered is, is reeds wyd op sosiale media gedeel en het talle hartsnare geroer.

Speursers. Cameron Blaine sê hy het die ouerpaar kort ná Cleo se redding gebel en gesê “hier is iemand wat graag met julle wil praat”. Cameron was een van vier polisiebeamptes wat die klopjag in die middernagtelike ure uitgevoer het.

“Haar eerste woorde toe sy uiteindelik haar ouers sien, was ‘Mammie’.”

“Almal was in trane.

“Nadat sy met haar ouers herenig is, het sy ʼn regte opwenhasie (energizer bunny) geword. Sy het beslis meer energie as enige van die pootuit polisiebeamptes,” het Cameron geskerts.

“Sy is ʼn lieflike klein dogtertjie. Almal in die span wou net beurte maak om haar vas te hou.”

Die verdagte

Volgens die polisie is die man wat tans in aanhouding is nie op die nasionale register vir seksoortreders geregistreer nie. Hy het vermoedelik ook alleen in die ontvoering opgetree en het geen verbintenis met Cleo of haar gesin nie.

Die polisie het egter geen verdere inligting oor die verdagte of die huis waar Cleo gevind is, bekendgemaak nie, aangesien dit deel van ʼn verdere ondersoek vorm.

Speursers. Rod Wilde het wel gesê die verdagte se inhegtenisneming was nie die gevolg van ʼn wenk deur ʼn lid van die publiek nie, maar danksy die harde werk en kundigheid van die reuseondersoekspan.

Wilde het egter elke lid van die publiek bedank vir die inligting wat hulle deurgegee het wat die polisie in hul ondersoek bygestaan het.

Die kleuter is kort nadat sy gered is na ʼn hospitaal vir verdere ondersoek geneem. Sy is ook op pad met haar ouers, Ellie Smith en Jake Gliddon, herenig. Sy is tans by die huis.

Die reddingspoging

Cameron sê Cleo se redding was beslis die hoogtepunt van sy loopbaan.

By die huis van haar vermeende ontvoerder het Cameron die kleuter drie keer gevra wat haar naam is voordat sy uiteindelik geantwoord het: “My naam is Cleo”.

“Dit het beslis soos sy gelyk, maar ons moes seker wees. Wat ʼn oomblik! Dit was ʼn ongelooflike gevoel van verligting.”

Cameron sê Cleo het die polisiebeamptes in haar vertroue geneem en maklik met hulle gesels.

Hulle het haar egter nie vir te veel inligting gedruk nie aangesien haar geestelike welstand eerste kom.

Formele klagte sal na verwagting later vandag aanhangig gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Daleen ·

Ag jy is te pragtig meisiekind. Hierdie ouma se hart is vol dankbaarheid dat jy veilig terug by mamma en pappa is. Pas haar asseblief soos goud op.

Zacahara ·

Wonderlike einding aan hierdie drama!!! Hoop & vertrou sy hou geen fisiese &/of geestelike letsels van hierdie affêre oor nie.

Papsak ·

Ag ons se Amen op dit wonderlik oulike klein mensie sy is veilig terug by haar ouers

madels ·

Dankie dankie dankie Jesus dat U hierdie dogtertjie bewaar het, hallelujah

Mickey ·

wow, wonderlike nuus. dus nie elke dag dat jy lees dat kinders terug gevind is nie. dankbaar sy is veilig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.