Covid-19: Meer as 20 miljoen gevalle wêreldwyd

Mediese werkers trek bloed van vrywilligers wat deelneem aan die kliniese toetse vir die koronavirus-entstof in die Budenko Main Military Hospital buitekant Moskou, Rusland (Foto: (Russian Defense Ministry Press Service via AP)

Meer as 20 miljoen Covid-19-gevalle is al wêreldwyd aangemeld sedert die virus in Desember in China uitgebreek het.

Volgens die Johns Hopkins Universiteit in Amerika is altesaam 10 miljoen gevalle binne die eerste ses maande vandat die virus uitgebreek het, wêreldwyd aangemeld. Dié getal het nou in minder as twee maande verdubbel.

Volgens statistieke kom byna tweederdes van alle gevalle in Amerika (5 252 747), Brasilië (3 057 470) en Indië (2 271 586) voor.

Die aantal Covid-19-sterftes het sedert Junie van 499 506 tot 736 191 toegeneem. Dit is ʼn gemiddeld van meer as 5 200 sterfgevalle per dag. Ongeveer ʼn vyfde van die bevestigde sterfgevalle (163 000) is in Amerika aangemeld.

Meer as 13 miljoen Covid-19-pasiënte het in dié stadium wêreldwyd herstel.

Die Russiese president Wladimir Poetin het Dinsdag gesê dat Rusland die eerste land ter wêreld is wat regulatoriese goedkeuring verkry het om ʼn Covid-19-entstof te ontwikkel. Dít minder as twee maande nadat Russiese wetenskaplikes dié entstof op mense begin toets het.

Volgens Poetin is een van sy volwasse dogters reeds ingeënt. Hy sê sy voel goed en het reeds ʼn groot aantal teenliggame gevorm.

Luidens ʼn BBC-berig het Russiese amptenare bevestig dat hulle beoog om in Oktober vanjaar ʼn massa-inenting van stapel te stuur.

President Wladimir Poetin het Dinsdag gesê dat Rusland die eerste land ter wêreld is wat regulatoriese goedkeuring verkry het om ʼn Covid-19-entstof te ontwikkel. (Foto: Alexei Nikolsky, Sputnik, Kremlin Pool via AP)

Meer as 100 entstowwe is wêreldwyd in ontwikkeling, waarvan sommige reeds tydens kliniese toetse op mense getoets is.

Meer as 890 000 nuwe bevestigde gevalle van die nuwe koronavirus is reeds in Rusland aangemeld, wat dit die land met die vierde meeste gevalle ter wêreld maak.

Gesondheidswerkers meen dat die werklike aantal Covid-19-pasiënte wêreldwyd veel hoër moet wees, gegewe toetsbeperkings en die feit dat sowat 40% van diegene met die virus geen simptome toon nie.

In Europa het die meeste lande die pandemie onder beheer en is algehele landwye afsonderings grootliks opgehef. Finland, Frankryk en Duitsland laat reisigers nou toe om na dié lande te reis, maar reisigers van hoërisikolande word met hul aankoms in bogenoemde lande getoets.

Spanje en Italië, wat aanvanklik swaar deur die virus getref is, het steeds die meeste bevestigde gevalle in Wes-Europa. Spanje staan op 370 060 gevalle en Italië op 250 825 gevalle.

Griekeland, wat streng afsonderingsmaatreëls reeds vroeg in die pandemie ingestel het, het tot dusver 5 749 Covid-19-gevalle aangemeld. Die regering het Maandag nuwe maatreëls aangekondig om ʼn tweede golf van gevalle te voorkom.

Jacinda Ardern, die Nieu-Seelandse eerste minister, het Dinsdag gesê vier nuwe gevalle van die virus het in een huishouding in Auckland voorgekom. Dit is die eerste oordrag tussen burgery van dié land in 102 dae en ʼn afsonderingstydperk is weer hier aangekondig.

Maroela Media het Vrydag berig Afrika het nou meer as 1 miljoen Covid-19-gevalle aangemeld sedert die virus aan die begin van die jaar na die vasteland versprei het. Suid-Afrika is steeds die episentrum van die virus in Afrika, meer as 50% van die positiewe gevalle wat hier aangemeld is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Oomniklaassevriend ·

Twintig miljoen besmettings uit ‘n wêreldbevolking van biljoene is skaars ‘n druppels aan die emmer. En dit na etlike maande wat die siekte al voorkom. In SA moet die 21000 moorde per jaar eerder aandag geniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.