Demokrasie word bedreig voor verkiesing – Biden

Pres. Joe Biden (Foto: MANDEL NGAN/AFP)

Die Amerikaanse president, Joe Biden, het sy voorganger, Donald Trump, en sy ondersteuners daarvan beskuldig dat hulle demokrasie ondermyn, voor volgende week se middeltermynverkiesing.

Dit volg nadat hy glo dreigemente deur Republikeinse kandidate gekry het dat hulle nie die uitslag van die verkiesing sal aanvaar nie, sou hulle verloor. Die verkiesing geskied Dinsdag.

“Moenie ’n fout maak nie, demokrasie is op almal se stembriewe,” het Biden Woensdag tydens ’n toespraak gesê.

Die Republikeine het teruggekap en gesê dat Biden probeer om die nasie te “verdeel”.

BBC berig Biden het Woensdagaand tydens ’n toespraak in Washington DC by die Union Station Trump daarvan beskuldig dat hy woede, haat en geweld aanwakker deur te weier om die uitslag van die presidensiële verkiesing in 2020 te aanvaar.

“Soos ek vandag hier staan, is daar kandidate wat vir elke ampsvlak in Amerika verkiesbaar is – vir goewerneur, vir kongres, vir prokureur-generaal, vir minister van buitelandse sake – wat hulle nie sal verbind om die uitslag van die huidige verkiesings te aanvaar nie,” het hy gesê.

Hy het met sy stelling dat die Demokrate bedreig word, verwys na die onlangse aanval op Nancy Pelosi (82), speaker van die Amerikaanse huis van verteenwoordigers, se man, Paul (82).

Paul is Vrydag by hul huis in Kalifornië met ’n hamer aangerand.

Die Amerikaanse regering het verlede week ’n bulletin aan wetstoepassingsagentskappe versprei wat waarsku teen ’n “verhoogde bedreiging” van huishoudelike gewelddadige ekstremisme voor die middeltermyn, en bygevoeg dat kandidate en verkiesingswerkers geteiken kan word deur individue met “ideologiese griewe”.

Die Republikeine het gesê pres. Biden probeer om Amerikaners se aandag af te lei van sy lae goedkeuringsgraderings en van Amerikaanse inflasie.

Peilings wys dat die Republikeine waarskynlik die Huis van Verteenwoordigers en moontlik ook die Senaat sal wen. Tans het die Demokrate klein meerderhede in albei, maar die party verloor aftrek weens algemene ontevredenheid oor hoë inflasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.