Dodetal styg in Turkye ná aardbewing

Reddingswerkers op soek na oorlewendes (Foto: Ismail Coskun/IHA via AP)

Vrees en hoop het deur die koue nag in Elazig in Turkye vermeng terwyl reddingspanne in die donker gepoog het om nog oorlewendes onder die puin te vind, meer as 24 uur ná ʼn aardbewing van 6,8 die stad getref het.

Minstens 31 persone is dood terwyl ander nog steeds onder geboue vasgekeer is wat ineengestort het, het Suleyman Soylu, minister van binnelandse sake, laat Saterdag gesê. Minstens 1 556 persone is beseer.

Reddingspanne kon twee persone kontak wat in die middestad onder puin vasgekeer is, het Soylu bygevoeg. “Ek hoop ons sal binnekort goeie nuus hê.”

Meeste inwoners in Elazig, met ʼn bevolking van nagenoeg 600 000, weier om hul huise te betree en het beplan om die nag in openbare parke of elders deur te bring uit vrees vir naskokke, het uitsaaier TRT berig. Die temperatuur was -5°C.

Sommige gesinne, insluitend babas, het buite in die oopte in parke om kampvure gesit.

Uitsaaier CNN Turk het beeldmateriaal gewys van soldate wat tente in ʼn park in Elazig oprig. Vroue en kinders het in rye gestaan om komberse te kry.

Meer as 15 000 persone het die nag deurgebring in tydelike skuilings waar sowat 5 000 tente by sportsentra en universiteitkampusse opgerig is.

Reddingspogings fokus tans op drie geboue wat in Sursuru en Mustafapasa ineengestort het, het die nasionale rampbestuuragentskap AFAD gesê. Minstens 43 persone is tot dusver gered.

Ongeveer 1 500 persone is in hospitale opgeneem, het AFAD bygevoeg. Altesaam 72 geboue het ineengestort en 1 000 geboue is beskadig tydens 600 naskokke sedert die aardbewing Vrydag om 20:55 getref het.

ʼn Tweejarige meisie is 24 uur ná die aardbewing onder die puin van ʼn gebou in Mustafapasa gered. Sy is na ʼn ambulans gehaas terwyl reddingspanne haar redding gevier het. Yusra se ma, Ayse Yildiz (35) is ook ná 28 uur ná die aardbewing gered.

Sowat 4 000 reddingswerkers is ontplooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lorette ·

Mag ons Hemelse Vader hierdie mense genadig wees. Dit is net eenboudig ongelooflik hartseer. Sterkte aan al die reddingswerkers asook aan hulle wat geliefdes verloor het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.