Doeanehoof vas ná Beiroet-ontploffing

‘n Gesin kyk Sondag na die toneel waar die ontploffing in Beiroet in Libanon plaasgevind het. (Foto: AP Photo/Bilal Hussein)

Die hoof van die Libanese doeane-owerheid is in hegtenis geneem in verband met die massiewe ontploffing in Beiroet vroeër vandeesmaand.

Badri Daher is Maandag in hegtenis geneem te midde van ’n ondersoek na 2 750 ton ammoniumnitraat wat ses jaar lank by ʼn pakhuis op die dokke by die hawe in Beiroet geberg is.

Daar word in dié stadium vermoed dat die ontploffing op 4 Augustus weens die nalatige berging van ammoniumnitraat, ’n hoogs plofbare chemikalie wat in kunsmisstowwe gebruik word, plaasgevind het. Minstens 180 mense is dood en 6 000 beseer in die ontploffing. Altesaam 30 mense word sowat twee weke ná die voorval steeds vermis.

Dokumente het intussen aan die lig gekom wat daarop dui dat amptenare jare lank van dié ammoniumnitraat in Beiroet se hawe en boonop van die gevare wat dit inhou, geweet het.

Mense kyk Sondag na die toneel waar die ontploffing in Beiroet in Libanon plaasgevind het. (Foto: AP Photo/Bilal Hussein)

Luidens inligting het regter Fadi Sawwan vir Daher dae ná die ontploffing in aanhouding laat neem. Die doeanehoof is vier en ’n half uur lank in die teenwoordigheid van sy twee advokate ondervra. ’n Lasbrief is daarna vir sy inhegtenisneming uitgereik.

Daher sal nou hangende die ondersoek in aanhouding bly.

Volgens die Libanese president, Michel Aoun, is die ondersoek na die verwoestende ontploffing egter “baie verwikkeld” en sal dus nie vinnig afgehandel kan word nie.

Volgens Aoun is die ondersoek in drie dele verdeel. Die eerste het ten doel om die omstandighede rakende die berging van die vrag ammoniumnitraat te bepaal, die tweede waar dit vandaan kom en wie dit gestuur het, en die derde om te bepaal wie verantwoordelik was vir die hantering en beveiliging daarvan.

Die skade wat weens die ontploffing aangerig is, beloop in dié stadium tussen $10 miljard (sowat R174 miljard) en $15 miljard (sowat R261 miljard).

(Foto: AP Photo/Hassan Ammar)

Stephane Dujarric, woordvoerder van die Verenigde Nasies, het Maandag gesê meer as 70 000 mense is vermoedelik werkloos weens die ontploffing. Dít is benewens die 220 000 mense in Libanon wat sedert verlede Oktober weens die finansiële krisis in die land en later die Covid-19-pandemie hul werk kwyt is.

Volgens Dujarric is sowat 40 000 geboue in Beiroet gedurende die ontploffing beskadig, waarvan 3 000 huise ernstige skade opgedoen het.

Minstens 2 000 dokters is óf beseer óf hul klinieke is in die voorval beskadig.

Die Egiptiese regering het intussen besluit om alle gevaarlike stowwe uit sy hawens te verwyder.

Dié land se minister van finansies, Mohamed Maait, het Sondag gesê ’n nuwe doeanewet in Egipte sal ’n beheerstelsel instel om materiaal wat uit die buiteland in Libanon aankom, na te spoor. Die stelsel sal ook bepaal waar die materiaal vandaan gekom ​​het en binne 48 uur aan die stuurpoort terugvoer hieroor gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.