Drie sterf toe Amerikaanse weermagheli’s in Alaska bots

(Foto: Sandy Huffaker/Getty Images/AFP)

Drie Amerikaanse soldate is dood en nog een beseer toe twee helikopters Donderdag van ʼn opleidingsending in ʼn afgeleë gebied van Alaska teruggekeer en tydens die vlug teen mekaar gebots het.

Die Amerikaanse weermag het bevestig dat twee soldate op die ongelukstoneel naby Healy in Alaska dood verklaar is, terwyl die derde soldaat op pad na die hospitaal gesterf het.

Die vierde soldaat word tans vir sy beserings in ʼn hospitaal behandel. Hul name is nog nie bekendgemaak nie omdat alle naasbestaandes eers in kennis gestel moet word.

“Dit is ʼn ongelooflike verlies vir hierdie soldate se gesinne, hul medesoldate en vir die afdeling,” het genl.maj. Brian Eifler gesê.

Die weermag ondersoek die voorval en dit is nog nie bekend waarom die twee AH-64 Apache-helikopters van die Fort Wainwright-basis in die lug gebots het nie.

Die ongeluk is die tweede van sy soort in minder as ʼn maand.

Nege soldate is einde verlede maand dood toe twee Blackhawk-helikopters van die Amerikaanse weermag tydens ʼn oefenvlug in Kentucky neergestort het.

Amerikaanse militêre vliegtuie en helikopters was die afgelope jaar ook by verskeie ander ongelukke betrokke.

In Februarie is twee soldate verbonde aan die Tennessee National Guardsmen-eenheid dood toe ʼn oefenvlug skeefgeloop en die Blackhawk-helikopter waarmee hulle gevlieg het, in Alabama neergestort het.

Vyf Amerikaanse vlootsoldate is ook in Junie verlede jaar dood nadat ʼn militêre vliegtuig in die suide van Kalifornië neergestort het. Die MV-22B Osprey het tydens opleiding naby Glamis, sowat 35 km van die Mexikaanse grens, geval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.