Drie vermis ná Colorado-veldbrand

ʼn Huis brand in Louisville, Colorado (30 Desember 2021) (Foto: Marc Piscotty/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Drie mense word vermis nadat ’n verwoestende veldbrand vroeër vandeesweek na dorpe in die Amerikaanse deelstaat Colorado versprei en byna 1 000 huise vernietig het.

“Ons is baie gelukkig dat ons nie ’n lys van 100 vermistes het nie. Maar ongelukkig het ons drie bevestigde vermiste persone,” het Joe Pelle, sheriff van Boulder County, tydens ʼn perskonferensie gesê.

Die soektog na die vermistes word intussen weens sneeu en puin bemoeilik.

“Die strukture waar hierdie mense moontlik kon wees, is heeltemal vernietig en tans toe onder ongeveer 20 cm sneeu.”

Minstens 991 huise het in die slag gebly toe die veldbrand Donderdag na die dorpe Superior en Louisville net buite die staat se grootste stad, Denver, versprei het.

Ondersoekers het intussen nog geen geloofwaardige bewyse gevind dat omgewaaide kragpale die brand veroorsaak het nie. ’n Deursoekingslasbrief is wel bekom en “op een spesifieke plek uitgevoer” as deel van die ondersoek, het Pelle gesê.

Minstens 33 000 mense moes Donderdag inderhaas vlug toe stormsterkte wind van meer as 160 km per uur die vlamme aangeblaas het.

“Baie gesinne het letterlik minute gehad om wat hulle ook al kon, in die motor te laai en te vlug,” het goewerneur Jared Polis gesê.

Hoewel die sneeuval gehelp het om die brand te blus, “bemoeilik dit misdaadtonele, herwinningspogings en skadebepaling,” het Pelle gesê.

Soos die meeste deelstate in die weste van Amerika, is Colorado in die greep van ʼn jare lange droogte wat die gebied veral kwesbaar maak vir veldbrande. Brande is deel van die natuurlike klimaatsiklus, maar die omvang en intensiteit neem in felheid toe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.