Droogte in dele van Engeland verklaar

Gars word vanjaar vir die eerste keer in byna 40 jaar vroeër geoes in Washingborough in Lincolnshire in die ooste van Engeland weens ongekende hoë temperature (11 Augustus 2022) (Foto: Ben Stansall/AFP)

Die Verenigde Koninkryk het Vrydag amptelik ʼn droogte in verskeie dele van Engeland verklaar ná maande van rekordlae reënval en ongekende hoë temperature.

Die regering se omgewingsagentskap het by ʼn vergadering van die Nasionale Droogtegroep gesê die droogte is in dele van die suidweste, suidelike, sentrale en oostelike Engeland verklaar. Droogte is laas in 2018 amptelik in Engeland verklaar.

Die omgewingsagentskap het Vrydag ʼn verslag gepubliseer wat wys dat Engeland die droogste Julie sedert 1935 beleef het.

Die weersomstandighede kom terwyl Frankryk ook rekorddroogte ervaar en deur erge veldbrande geteister word.

Die Met Office, die VK se meteorologiese owerheid, het gesê die periode van Januarie tot Junie vanjaar was die laagste reënval in Engeland en Wallis sedert 1976. In daardie somer is drastiese maatreëls soos waterbeperkings ingestel.

Die regering het gesê die besluit om ʼn droogte te verklaar is gebaseer op faktore soos reënval, riviervloei en reservoir- en grondwatervlakke en die impak op die verskaffing van grootmaat water.

“Ons maan almal om die hoeveelheid water wat hulle verbruik noukeurig te bestuur,” het Harvey Bradshaw, voorsitter van die Nasionale Droogtegroep, gesê.

Die groep het benadruk dat noodsaaklike watervoorraad veilig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.