Duisende Russe groet Gorbatsjof

(Foto: Alexander NEMENOV/AFP)

Russe het Saterdag die laaste eer aan Mikhail Gorbatsjof, laaste leier van die Sowjetunie, betoon in ʼn seremonie wat sonder veel fanfare in Moskou gehou is.

Duisende roubeklaers het tou gestaan om verby Gorbatsjof se oop kis te loop waar dit in die historiese Kolomsaal in staatsie gelê het.

Ná ʼn paar uur is die kis na die Nowodewitsji-begraafplaas geneem, waar dit in die graf laat sak is terwyl ʼn militêre orkes die Russiese volkslied gespeel en ʼn geweersaluut gevolg het. Gorbatsjof is langs sy vrou, Raisa, wat in 1999 aan kanker gesterf het, begrawe.

Pres. Wladimir Poetin het nie Saterdag se begrafnis bygewoon nie weens sy “werkskedule”, aldus die Kremlin.

Gorbatsjof is Dinsdag in die ouderdom van 91 dood ná ʼn ernstige en lang siekte, het die hospitaal waar hy behandel is, gesê.

(Foto: Evgenia NOVOZHENINA/POOL/AFP)

Hy was tussen 1985 en 1991 aan bewind en het probeer om die Sowjetunie met demokratiese hervormings te transformeer, maar dit het uiteindelik die ondergang daarvan veroorsaak.

Sy lewe word bestempel as een van die invloedrykste van sy tyd en die hervorming wat hy as Sowjetleier ingestel het, het sy land verander en Oos-Europa toegelaat om hom van Sowjetregering te bevry.

Die veranderings wat hy teweeg gebring het, het van hom ʼn gewilde leier in die Weste gemaak, maar dit het hom ook die gramskap op die hals gehaal van talle Russe wat jammer was oor die einde van hul land se rol as ʼn internasionale supermoondheid.

Hy het in die Weste as “Gorby” bekendgestaan en het in 1990 die Nobelprys vir vrede ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.