Duisende skape verdrink toe skip sink

Argieffoto (Foto: Hans Braxmeier/Pixabay)

ʼn Oorlaaide skip met duisende skape het Sondag aan Soedan se Rooisee-kus omgeslaan. Die diere het verdrink, maar alle bemanningslede het oorleef, het hawe-owerhede gesê.

Die vaartuig was van Suakinhawe in Soedan op pad na Saoedi-Arabië toe dit in die Rooisee in die moeilikheid beland het.

“Die skip, Badr 1, het Sondag in die vroeë oggendure gesink,” het ʼn senior hawebeampte van Soedan gesê, op voorwaarde van anonimiteit. Daar was 15 800 skape aan boord – baie meer as die beperking vir die skip.”

Nog ʼn beampte, wat gesê het dat alle bemanningslede oorleef het, het sy kommer uitgespreek oor die ekonomiese en omgewingsimpak van die ongeluk.

“Die skip sal ʼn impak hê op die hawe se bedrywighede. Dit sal waarskynlik ook ʼn omgewingsimpak hê weens die groot getal diere wat deur die skip vervoer is.”

Suakin se hawe is nie meer Soedan se grootste hawe vir buitelandse handel nie. Dié rol is oorgeneem deur die Soedanhawe, sowat 60 km verder aan die kus van die Rooisee. Daar was pogings om die hawe op te knap, maar ʼn ooreenkoms in 2017 met Turkye om die geskiedkundige geboue te herstel en die dokke te vergroot is opgeskort ná pres. Omar al-Basjir ontsetel is.

Soedan word steeds geteister deur ʼn ekonomiese krisis. Dit het verdiep ná verlede jaar se militêre staatsgreep onder leiding van Abdel Fattah al-Burhan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jacoba ·

Diere wat vervoer word tot by hawe, dan op skip en dan weer vervoer is so siek. Daar moet ‘n beter manier wees. Skip oorlaai. Hoop mense verantwoordelik vir dit word GOED vasgevat. Is alles kosnood of dalk GELD GOD??
Ek vra maar net.

KatjieDeKat ·

Ek dink dis maar “supply and demand”. Arabiese besigheidsmense wat skape invoer vir hul land se kosmark, Somaliese besigheidsmense wat hulle verkoop. Gewone internasionale opemark besigheid. Hierdie was n ongeluk, maar ja ek hou ook nie van slegte omstandighede vir diere nie, nie eens vir diere wat in elk geval geslag sou word nie. Tot dat almal op Aarde nie ophou vleis eet nie sal hierdie tipe ding gebeur.

Janee ·

Dis om van te huil…Dink die lyding wat daardie skape op die skip ervaar het…en dis ‘n ding wat daagliks herhaal word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.