Duisende toeriste vlug voor brande in Griekeland

(Foto: Will Vassilopoulos/AFP)

Duisende mense moes Sondag weens veldbrande van die gewilde Griekse eiland Rhodos vlug, met vreesbevange toeriste wat vervaard geskarrel het om by die huis te kom.

Daar was ook berigte van veldbrande op Corfu, nóg ʼn gewilde Griekse eiland, met mense wat Sondag oor land en see na veiligheid geneem is.

Die brande in Rhodos kom te midde van die hoogtepunt van die toerismeseisoen en het die land se grootste ontruiming weens veldbrande nóg tot gevolg gehad. Talle vlugte en vakansies is reeds gekanselleer.

Honderde vakansiegangers het Sondag by Rhodos se internasionale lughawe rondgemaal; sommige het op hul strandhanddoeke probeer slaap terwyl hulle wag op vlugte om die eiland te verlaat.

Griekeland se departement van buitelandse sake en ambassades rig nou ʼn kantoor by die Rhodos-lughawe in om toeriste wat reisdokumente verloor het terwyl hulle van die vlamme gevlug het, te help.

“Dit is ʼn besonder verwoestende brand omdat dit die hart van Rhodos en sy omgewing raak,” het Efthymios Lekkas, ʼn professor wat in natuurrampe spesialiseer, Sondag aan ERT TV gesê.

Hy het ook oor die ernstige uitwerking van die brande op die eiland se toerismebedryf gewaarsku.

Kelly Squirrel, ʼn vervoer-administrateur wat uit die Verenigde Koningryk (VK) met vakansie in Griekeland is, het aan AFP gesê sy het die brande van die swembad af gesien en dadelik na die strand gehardloop toe sy aangesê is om die gebied te verlaat.

“Ons het sowat ses uur in die hitte gestap om weg te kom,” sê Squirrel.

Rhodos is een van Griekeland se gewildste vakansiebestemmings, veral onder Britse, Duitse en Franse toeriste.

“In hul haas om te vertrek, moes sommige besoekers hul besittings agterlaat,” sê Kevin Sales, ’n ingenieur van Engeland.

“Ons moes vir ’n vrou van my vrou se klere leen omdat sy niks gehad het om aan te trek nie; dit was aaklig,” sê Sales.

Ander Griekse eilande het soortgelyke probleme aangemeld.

’n Veldbrand het volgens die brandweer op Griekeland se tweede grootste eiland, Evia, uitgebreek en talle moes uit woongebiede vlug.

Evia, aan die ooskus van sentrale Griekeland, het verlede jaar onder die ergste veldbrande in die land se geskiedenis gebuk gegaan.

Volgens die Athens News Agency het die owerhede al waarskuwings vir die ontruiming van 12 dorpe in die noordweste van Griekeland uitgereik. Die kuswag by Corfu sê ʼn reddingsoperasie – weens ʼn veldbrand – is intussen by die strand in Nissaki in die noordooste van die eiland van stapel gestuur.

“Ses kuswagvaartuie en sewe private bote het 59 mense van die strand af gered.”

Toeriste en sommige plaaslike inwoners moes die nag in gimnasiums, skole en hotelkonferensiesentrums op die eiland deurbring.

’n Groot deel van die eiland sit boonop ook sonder elektrisiteit omdat die openbare kragvoorsiener, PPC, die plaaslike aanleg in die suide van die land weens kommer oor veiligheid moes sluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.