Een sterf in skietery by kliniek

Wetstoepassers staan Dinsdag buite die Allina Health Clinic in Buffalo, Minnesota. (Foto: Stephen Maturen/Getty Images/AFP)

Een persoon is dood en vier gewond toe ʼn man Dinsdag in ʼn kliniek in die Amerikaanse deelstaat Minnesota op gesondheidswerkers losgebrand het. Die man was glo ongelukkig met die behandeling wat hy by dié kliniek ontvang het.

Gregory Ulrich (67) het glo kort voor 11:00 by die Allina Health Clinic in Buffalo, ’n stad noordwes van Minneapolis, ingestap en begin skiet. Daar was ook moontlik ’n ontploffing voordat skote in die kliniek geklap het.

Vyf mense is ná die voorval na ’n hospitaal gehaas, waarna dit later bekend geword het dat een van die slagoffers dood is.

Pat Budke, polisiehoof van Buffalo, het tydens ’n mediakonferensie gesê Ulrich het ʼn wrok teen die betrokke mediese fasiliteit gehad.

“Dit is ʼn storie wat oor ʼn paar jaar strek, en daar is beslis ʼn geskiedenis dat hy ongelukkig was met… die gesondheidsorg wat hy ontvang het.”

Volgens Budke was daar egter nooit enige aanduiding “dat ons in die situasie sou verkeer waarin ons vandag is nie.”

Die koerant Star Tribune berig Ulrich het ná die skietery by die kliniek gesê daar is bomme op die perseel geplant voordat hy in hegtenis geneem is. Die polisie het later bevestig dat hulle op ʼn verdagte pakkie afgekom het toe hulle die gebou deursoek het. Ander toestelle is in ʼn nabygeleë hotelkamer gevind waar die verdagte gebly het.

ʼn Ooggetuie het aan Fox 9 vertel sy het haar ma by die kliniek gaan aflaai toe twee verpleegsters uitgehardloop kom.

“Hulle het gesê hulle het binne ʼn minuut 11 skote gehoor. Hulle was baie bang en wou net uit die plek kom.

“Ons het sowat twee minute later gesien hoe die [glas van die] voorste vensters breek… en ons het daar weggekom.”

Die verdagte is tans in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

ES ·

67 en jy bou bomme en beplan om onskuldige mense dood te maak… skokkend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.