El Niño plaas verdere druk op voedselsekerheid

Die El Niño-weerverskynsel hou ’n toenemende risiko vir voedselsekerheid in suider-Afrika in. (Foto: Couleur/Pixabay)

Die El Niño-weerverskynsel, tesame met wydverspreide droogte, hou ’n toenemende risiko vir voedselsekerheid in suider-Afrika in.

So het die Verenigde Nasies (VN) se Wêreld- Meteorologiese Organisasie (WMO) Vrydag gewaarsku.

Belangrike landboustreke in Malawi, Mosambiek, Namibië, Zambië en Zimbabwe het slegs 80% van die gemiddelde reënval gedurende November en Februarie vir die Suidelike Halfrond ontvang, het die organisasie in ʼn verslag aangedui.

Luidens die verslag is “beduidende reënvaltekorte” in Februarie aangeteken, ’n tydperk wat te min water ʼn groter impak op oesopbrengste het.

Bogemiddelde temperature en ’n “wisselvallige” verspreiding van neerslag het die situasie vererger.

Suid-Afrika, die streek se grootste graanprodusent, het ook in Januarie en Februarie gebuk gegaan onder min reën en hoë temperature, wat waarskynlik ’n daling in die mielie-oes in vergelyking met verlede jaar, tot gevolg sal hê.

Daar word verwag dat graanproduksie in die streek vanjaar in die geheel sal afneem, wat die behoefte vir invoere sal verhoog.

Toegang tot voedsel kan verder beïnvloed word deur ’n daling in inkomste vir inwoners van landelike gebiede en ’n moontlike styging in pryse weens ʼn tekort aan aanbod.

Die situasie word vererger deur die swakheid van plaaslike geldeenhede, wat daartoe bydra dat die lewenskoste in verskeie lande verhoog.

Zambië het reeds einde verlede maand die droogte tot ’n “nasionale ramp” verklaar.

El Niño is ’n weerstelsel wat ontstaan weens die grootskaalse verhitting van oppervlaktemperature in die sentrale en oostelike Stille Oseaan.

Die WMO sê die El Niño-weerverskynsel het in Desember ʼn hoogtepunt bereik, maar bo-gemiddelde temperature kan steeds tot en met Mei vanjaar verwag word. Volgens die WMO was hierdie weerverskynsel van die vyf sterkste wat nóg aangeteken is.

Die weerverskynsel kom gemiddeld elke twee tot sewe jaar voor en kan tussen nege en 12 maande duur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fubar ·

Ai, tog. Die El Niño-weerverskynsel kry altyd die skuld vir Suid-Afrikaanse boere wat nog boer soos hul Oupas. Te lui en oningelig om moderne metodes te gebruik.
Gaan kyk ‘n bietjie hoe intensief daar in Japan geboer word – min grond oppervlakte, maksimum opbrengs. Maar nee, daar word eerder gebid vir reën. Pateties.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.