EU dagvaar AstraZeneca oor miljoene dosisse entstof

AstraZeneca se Covid-19-entstof (Foto: Vano SHLAMOV / AFP)

Die Europese Unie (EU) dagvaar die farmaseutiese reus AstraZeneca in ʼn poging om hom te dwing om voor Julie nóg 90 miljoen dosisse van sy Covid-19-entstof te lewer.

“Ons wil hê die hof moet die maatskappy beveel om 90 miljoen bykomende dosisse te lewer, benewens die 30 miljoen wat reeds in die eerste kwartaal gelewer is,” het Stefan de Keersmaecker, woordvoerder van die Europese Kommissie, Dinsdag tydens ʼn mediakonferensie gesê.

Maroela Media het vroeër berig die kommissie en die maatskappy is in ʼn stryd gewikkel oor ʼn groot tekort aan entstof wat inentingsveldtogte in die blok verhinder.

Die kommissie het reeds twee keer dringende regstappe teen AstraZeneca gedoen weens beweerde kontrakbreuk deur die maatskappy.

Volgens die EU bepaal die betrokke kontrak dat die Brits-Sweedse maatskappy 300 miljoen dosisse in die eerste helfte van die jaar aan die EU lewer. AstraZeneca hou egter vol hy word slegs verbind tot die “beste redelike poging” om dié teiken te bereik.

Die maatskappy het intussen hersiene aflewerings aan die EU gebied.

In plaas van 120 miljoen dosisse wat oorspronklik vir die eerste drie maande aan die EU belowe is, het die maatskappy 30 miljoen dosisse gelewer. Hy het verder beloof om 70 miljoen dosisse gedurende die tweede kwartaal te lewer. Dít nadat hy aanvanklik 180 miljoen dosisse sou lewer.

ʼn EU-amptenaar met kennis van die aflewering van entstowwe het aan AFP gesê dat AstraZeneca se huidige aflewering van tien miljoen dosisse per maand selfs minder is as die verminderde skedule.

Volgens De Keersmaecker het die regsoptrede nie ten doel om AstraZeneca met ʼn boete te straf of om vergoeding te eis nie, maar bloot om te verseker dat die beloofde dosisse afgelewer word.

“Indien ʼn boete die maatskappy sou aanspoor om sy verpligtinge na te kom, kan ons hom vra om ʼn boete te betaal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hennie ·

Ja, al maak Astra Zenica gebruik van kinder arbeid… Wie gee om? Lewer die goodies beeatches!!!! Hoe belaglik is dit nie?

Martie Smartie ·

Is dit nie die goed wat nie baie doeltreffend is nie? Nou waaroor gaan hulle so aan. Dis mos die goed wat die SA regering gekoop en toe weer verkwansels het (na bewering).

Tommie ·

Het hulle nie straks beter dinge om na te kyk nie? Dit is belaglik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.