Europeërs bekommerd oor druiwe uit SA

Suid-Afrikaanse druiwe is onder druk op Europese markte weens hul wisselvalligheid (Foto: Thorsten Blank, Pixabay)

Die druiweseisoen in Suid-Afrika is besig om einde se kant toe te staan, maar die probleme in die Kaapstad-hawe wil net nie end kry nie en Europese druiwe-invoerders het hul stem by die koor van bekommerde betrokkenes gevoeg.

Die Kaapstad-hawe het in die laaste tyd baie ongewild geword weens arbeidtekorte, onbevoegdheid, toerusting wat deurlopend breek en kragonderbrekings.

Maroela Media het by ʼn paar buitelandse maatskappye gaan hoor hoe hulle die probleem sien, watter alternatiewe planne beraam word en die gevare wat dit vir die plaaslike bedryf inhou.

Exsa is ʼn druiwe-uitvoermaatskappy in die Paarl met kantore in Londen en Hertogenbosch in Nederland.

“Hierdie tyd van die jaar, wanneer die Noordelike Halfrond buite hul produksieseisoen is, is Suid-Afrika ons sleutelverskaffer,” sê Eddie Kreukniet, besturende direkteur van Exsa Europe in Nederland.

“Die probleme wat Suid-Afrika ondervind, dra dus noemenswaardig tot ons uitdagings by. Daar was wel maar altyd probleme in Suid-Afrika, maar hierdie seisoen was dit besonder erg.

“In Europa gaan invoerders gebuk onder duurder wordende verpakkingskoste, energie en die verskepingsmaatskappye hanteer ons soos kinders (weens die chaos in verskaffingskettings met die nadraai van die wêreldwye inperkings). Daar is deurlopend vertragings waarvan ons nie in kennis gestel word nie en hulle sal op die laaste oomblik van hawens verwissel. Dit plaas geweldige druk op ons logistiek en maak ons werk baie moeiliker.

“Ons kan onsself ook nie teen vertragings verseker nie, want dit is baie duur en dit is ingewikkeld om aan die voorwaardes in die kontrakte te voldoen.”

Hy sê die verskepingskoste uit Suid-Afrika het ook skerp gestyg. “Wanneer jy duurder vir ʼn diens betaal, verwag jy darem diens wat daarby tred hou, maar die omgekeerde is waar in Suid-Afrika.

“Hoewel die supermarkte simpatie met ons probleem het, plaas hulle steeds druk op ons, want in Europa kan die verbruiker duurder koste absorbeer, maar leë rakke is onaanvaarbaar. Ons kan ook nie produkte berg as die aankoms wisselvallig is nie, omdat dit vars verskaf moet word en as jy druiwe vir langer as tien dae stoor, speel jy met vuur.”

Hy sê die omdraaityd vir ʼn skip in Rotterdam-hawe is tussen 48 en 72 uur, maar volgens ʼn anonieme bron neem dit gemiddeld tussen ses en sewe dae vir ʼn skip in die Kaapstad-hawe om net gehelp te word.

Buiten ongure weer het Rotterdam ook ʼn probleem met gereelde digte mis, maar hulle is in staat om nooit op te hou werk nie.

Karsten Boerdery produseer druiwe in die Noord- en Wes-Kaap en voer 95% van sy druiwe uit. Dié boerdery het ʼn kantoor in Spalding in Engeland en verskaf aan supermarkte soos Tesco, ASDA en Sainsbury’s.

Herman Engelbrecht, besturende direkteur, behartig hierdie bekende boerdery se belange aan daardie kant.

“Ek is nou al 17 jaar in die Verenigde Koninkryk en ek kon sien hoe dinge verander het. Destyds kon jy met relatiewe sekerheid sê wanneer jy jou vrugte gaan kry, maar deesdae heers daar groot onsekerheid oor wanneer dit hier gaan aanland.

“Aan hierdie kant het ons weeklikse programme waarvolgens ons produkte aan ons kliënte moet lewer en deesdae het ons een week niks en ander weke dubbel soveel.

“Dit het ʼn domino-effek, want buiten die probleem met bederfbaarheid en beperkte rakleeftyd wat die waarde beïnvloed, is ons vermoë om vrugte te stoor beperk en die hawe gee ons net ʼn sekere aantal dae om dit te verwyder voordat ons gepenaliseer word.”

Dan is daar die bykomende koste verbonde daaraan om dit te skuif en elders te stoor.

Hy sê gelukkig verstaan die supermarkte, want hulle kry dieselfde boodskap by al die betrokkenes, maar hoewel hulle Karsten nog nie gepenaliseer het omdat hy nie vrugte kon lewer nie, kan dit in die toekoms gebeur.

“Ons in die druiwebedryf is in die dilemma dat ons geleentheid vir mededingers soos Chili en Peru gee om in te beweeg. Hoewel hulle tans ander markte en uitdagings het, bly dit ʼn risiko.”

Peru stuur tans druiwe tot middel Desember na die VK, maar kan in Januarie ook uitvoer as dit moet. Chili stuur tans sy druiwe na die VSA, maar dié land kan na die VK uitvoer as daar ʼn afname vanuit Suid-Afrika is.

Volgens Engelbrecht het die VK se mark die afgelope tyd baie ontwikkel en hulle verwag dat daar elke dag vars druiwe en lemoene op hulle winkelrakke sal wees.

“Die Britte is baie bekommerd oor hulle vrugte vanuit Suid-Afrika en verstaan nie wat beurtkrag is nie. Ouens wat gereeld in Suid-Afrika vakansie hou en daar sake doen wonder oor die vertragings en die impak wat dit in die toekoms sal inhou. Hulle wil nie graag hulle sakemodelle verander nie, maar hulle besef dat dit onverantwoordelik sal wees om nie alternatiewe planne te maak nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Kokerboom ·

Dis kommerwekkend. Wanneer (indien ooit) gaan regering na tafel kom? Privatisering is al uitweg.Walvisbaai hawe gaan gaping vat! Lees President nie die goed? Is sy adviseurs onbevoeg?

Piet Snot ·

Ongelukkig beteken “privatisering”, China.
Ek’s nie seker ek het krag daarvoor nie.

Groen Ghoen ·

Wat wag op die sitrusbedryf wat binnekort al gaan begin met oes? Vir hoe lank nog gaan Ramaphosa en sy hoogsbetaalde onbevoegde bende al die land se ellendes op die afgesaagde Zuma, “staatskaping” en Covid19 temas bly blameer? Voordat ek vergeet: Die ANC sal seker binnekort Kubaanse logistieke eksperts invoer.

Samuel ·

Transnet doen al jarelank niks om die situasie in Kaapstad-hawe te verbeter nie. Die regering is ook nie bekommerd oor of die ekonomie van die Wes-Kaap skade ly al dan nie. Die wêreld is nie regtig van SA afhanklik nie.

Anoniem ·

Wat nie hier genoem word nie, is dat dit die Boer is wat op die ou einde met die probleem sit. Indien sy vrugte selfs vir redes buite sy beheer oorsee vernietig moet word, betaal die Boer ‘n “dumping cost” wat beteken hulle moet inbetaal om van die produk ontslae te raak. Wie die duiwel kan dit bekostig?

Pietertjie ·

En só vrot alles Suid-Afrikaans. Maar dis mos waarvoor die wêreld so baklei het!

Ronel ·

En nog nie een keer hierdie seisoen lekker soet drive gekry nie, hul proe na niks of nog aan suur kant

Marius ·

Die anc regering roem in hul eie onkunde en apatiese bestuur styl. Hul het nie die vermoeë om enigiets te bestuur to voordeel van die ekonomie nie. Die groente, vrugte waaronder druiwe land ook nie baie vars op ons eie winkel rakke nie.

Mallie ·

Geluk aan die ANC. Nog iets wat voor hulle deur gele kan word. Voeter alles op.

Johan ·

Die Wynuitvoerders gebruik nou al PE (of wat ookal die naam is) se hawe.

Nommer 7 ·

Waar kan ek soet tafeldruiwe koop? Selfs Wooolies s’n is suur.

Kirst ·

Op Kaapsatd se hawe. Ek het eergister ‘n boks persent gekry by ‘n plaaslike boer (hier in Worcester) en dis heerlik. Hy voer egter sy druiwe uit.

CA ·

Beplan die vrugtebedryf vir ‘n toekoms waarin buite-seisoen uitvoere net gewoon nie meer lewensvatbaar is nie? Afgesien van watter plaaslike probleme ons met die hawe of beurtkrag het, is energiekostes en -tekorte, en omgewingsimpakte van energie al groter realiteite. As ons ons oë eendag uitvee is daar ‘n boikot van “high-carbon” (= langafstand) produkte.

Martin ·

Ek woon in SA maar werk al vir oor die 20jaar oorsee. My vrou doen haar in inkopies by Woolworths en Checkers en koop gereeld daar druiwe, ek weet vir ‘n feit die druiwe van SA wat ek by die werk kry om te eet se gehalte is gewoonlik beter as die wat ons by die huis kry. Die druiwe vanaf SA wat jy oorsee kry se korrels is effens groter en dit is lekker soet en vars.

Louis ·

Nee, die Europeuse lande moet nou hul groot monde hou, hulle het S.A. mos help druk in hierdie rigting. Kry vir julle!

Windhond ·

Altyd verskonings,- meer werkers, minder werk, dis SA se leuse

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.