Facebook-nuusverbod in Australië opgehef

Argieffoto

Facebook het Dinsdag ingestem om sy omstrede nuusverbod in Australië op te hef nadat die regering ingestem het om die voorgestelde wetgewing waarvolgens tegnologiemaatskappye gedwing sal word om publikasies vir hul inhoud te betaal, te wysig.

Josh Frydenberg, Australië se federale tesourier, sê die regering en Facebook kon ’n ooreenkoms bereik rakende die voorgestelde wetgewing. Facebook en Google sal ingevolge dié ooreenkoms voortaan nie deur die wetgewing gepenaliseer word nie solank hulle ’n ooreenkoms met plaaslike mediamaatskappye bereik om vir nuus te betaal.

Facebook het dié ooreenkoms verwelkom.

“Ons kan nou as gevolg van hierdie veranderinge daaraan werk om ons belegging in die joernalistiek van openbare belang te bevorder en om nuus op Facebook in Australië in die komende dae te herstel,” sê Will Easton, besturende direkteur van Facebook Australië.

Maroela Media het vroeër berig die sosialemediaplatform is verlede week fel gekritiseer nadat Australiërs van Donderdagoggend af nie skakels na nuusartikels kon plaas of die Facebook-blaaie van plaaslike en internasionale nuusblaaie kon sien nie.

Australiese premier Scott Morrison het Facebook daarvan beskuldig dat hy ’n besluit geneem het om Australië “as vriend te verwyder”.

Google en Facebook is sedert hul ontstaan in die laat negentigs en vroeë 2000’s grotendeels ongereguleer en het intussen gegroei tot twee van die wêreld se grootste en winsgewendste ondernemings.

Vir elke $100 wat vandag deur Australiese adverteerders bestee word, gaan $49 aan Google en $24 aan Facebook.

Duisende joernalistieke poste en talle mediamaatskappye in Australië het egter die afgelope dekade verlore gegaan terwyl die sektor toekyk hoe hul advertensie-inkomste na die digitale spelers vloei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fritz ·

Facebook 1
“Oestraliese” regering 0
:):)
Nie dat ek enigsins n Facebook dissipel is of hulle al ooit gebruik het nie. Dis maar net dat ek regerings (lees politici) wêreldwyd n titseltjie meer verpes. Altyd lekker om n politikus te sien verloor, liberaal of konserwatief.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.