Franse burgemeesters doen oproep om orde

‘n Fransie polisiebeampte staan wag by die huis van Vincent Jeanbrun, burgemeester van L’Hay-les-Roses, waar betogers ‘n brandende voertuig teen sy huis laat bots het. (Foto: Geoffroy van der Hasselt/AFP)

Burgemeesters van oor Frankryk het ʼn beroep op inwoners en die amptenary gedoen om Maandag by stadsale bymekaar te kom in protes teen die gewelddadige betogings wat al byna ʼn week lank dié land in ʼn wurggreep het.

Die regering spook om onluste in bedwang te bring sedert die dood van ʼn 17-jarige seun, bekend as Nahel, wat verlede week deur ʼn polisiebeampte doodgeskiet is. Nahel het in ʼn gehuurde motor in die woonbuurt Nanterre gery en is doodgeskiet kort nadat die polisie hom voorgekeer en hy probeer wegry het.

Die buitengewone oproep vir die “mobilisering van burgers vir die terugkeer na die republikeinse orde” kom nadat die huis van ʼn burgemeester in ʼn voorstad in Parys byna afgebrand is.

Betogers het ʼn brandende motor teen Vincent Jeanbrun, burgemeester van L’Hay-les-Roses, se huis laat bots terwyl sy vrou en jong kinders van onderskeidelik vyf en ses jaar oud tuis was. Jeanbrun was by die stadsaal besig om die onluste te hanteer.

Sy vrou is ernstig beseer en het onder meer ʼn been gebreek. Die polisie ondersoek nou ʼn saak van poging tot moord.

“Gisteraand het die afgryse en skande ʼn nuwe vlak bereik,” het Jeanbrun na afloop van die voorval in ʼn verklaring gesê.

Tydens ʼn besoek aan L’Hay-les-Roses het eerste minister Elisabeth Borne aan verslaggewers gesê dat die “situasie oor die algemeen baie rustiger was” as in vorige dae.

“Maar ʼn daad soos wat ons vanoggend by die burgemeester se tuiste gesien het, is besonder skokkend,” sê sy.

“Ons sal nie toelaat dat geweld ongestraf verbygaan nie.”

Sy het onderneem dat die oortreders met die “grootste erns” vervolg sal word.

ʼn Vereniging van die land se burgemeesters sê buurte in Frankryk word tans gekenmerk deur “tonele van ernstige onrus wat republikeinse simbole met uiterste geweld teiken”.

In ʼn poging om die wetteloosheid in bedwang te bring het pres. Emmanuel Macron opdrag gegee dat 45 000 polisiebeamptes landwyd ontplooi word.

Teen die naweek is byna 1 000 mense reeds in hegtenis geneem in verband met die landwye betogings en teen Maandagoggend is nog 157 mense vasgetrek.

Die land se departement van binnelandse sake sê ʼn brandweerman is oornag dood nadat hy gespook het om verskeie brandende motors te blus.

Gerald Darmanin, minister van binnelandse sake, sê die 24-jarige brandweerman het in ʼn ondergrondse parkeerterrein in die voorstad Seine-Saint-Denis gesterf.

Darmanin het nie die skuld vir die brandende motors spesifiek voor die deur van betogers gelê nie, maar ʼn ondersoek is van stapel gestuur om die oorsaak van die brande te bepaal.

‘Staak die betogings’

Wyle Nahel se ouma het Sondag ʼn beroep op die betogers gedoen om die onluste te beëindig en sê haar kleinseun se dood word as “voorwendsel” gebruik om te betoog.

“Staak dit en moenie verder betoog nie,” het Nahel se ouma, Nadia, in ʼn onderhoud aan BFM-televisie gesê.

“Ek sê vir die mense wat betoog: Moenie vensters stukkend slaan, skole of busse aanval nie. Staak dit!

“Die man [wat Nahel geskiet het] moet boet vir sy dade, maar diegene wat die onluste aanvuur en die polisie aanval moet ook gestraf word. Ek glo in geregtigheid.”

Nadia sê sy is “moeg” nadat sy nie net haar kleinkind verloor het nie, maar ook haar dogter aan haar eie droefheid.

Onluste beklemtoon bekommernisse

Sowat 7 000 polisiebeamptes is in Parys en sy voorstede ontplooi, insluitend die Champs-Élysées in die hoofstad, na aanleiding van oproepe op sosiale media om die betogings na die hart van die stad te neem.

Die organiseerders van die Tour de France sê hulle hou die situasie ook fyn dop, aangesien die fietsren gereed maak om Maandag die grens na Frankryk oor te steek ná twee dae in Spanje se Baskiese streek.

Die voortslepende onrus laat ook kommer ontstaan oor Frankryk se vermoë om later vanjaar die Rugbywêreldbeker aan te bied, asook die Olimpiese Spele volgende jaar.

Macron het reeds ʼn staatsbesoek aan Duitsland uitgestel oor die erns van die situasie op tuisbodem.

Hy het Sondag ʼn noodvergadering met sy ministers gehou en beplan om Maandag met die hoofde van die twee kamers van die parlement te vergader, asook die burgemeesters van meer as 220 dorpe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jo-Anne ·

Dit gebeur as n land sy grense oopmaak. Verkeerde mense stroom land, en dit verander in n derde wereld land.

Karel Kobus Kruger ·

Lyk my die Franse regering dink burgemeesters is spesiaal. Was seker maar nog altyd so. Leiers beskou hulself as verhewe.

Vlakvark ·

Die Bokke sal dan goed doen in Wêreldbeker as dit dan nog steeds so gaan. Sal vir hulle voel hulle speel in hulle eie land.

Nettie ·

En so kom Siener se visioene en voorspellings een na die ander waar. Ons staan op die vooraand van groot dinge in die wereld. Sterkte aan Frankryk en al die opregte Franse wat hul land lief het.

Elize ·

Ja die klipgooiers en vuurhoutjie aanstekers is besig om die wêreld oor te neem

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.