Freddy Mercury se handgeskrewe konseplirieke opgeveil

Die konseplirieke van Bohemian Rhapsody. (Foto: TIMOTHY A. CLARY / AFP)

Verskeie van Freddie Mercury se ongesiene en handgeskrewe konseplirieke vir sommige van Queen se grootste treffers is tans in New York te sien voordat dit later vanjaar in Londen opgeveil sal word.

Die manuskripte sluit in konseplirieke vir “Bohemian Rhapsody” – wat Mercury aanvanklik “Mongolian Rhapsody” wou noem – sowel as “Don’t Stop Me Now” en “Somebody to Love”.

Die grootste vonds is sekerlik die 15 bladsye van lirieke en melodieë wat gelei het tot “Bohemian Rhapsody”, een van Queen se gewildste en mees gestroomde liedjies en die derde beste Britse enkelsnit ooit wat verkope betref.

Dit is duidelik uit dié bladsye waarop daar in swart en blou ink en potlood op papier van die nou ontbinde British Midland Airways geskryf is dat Mercury aanvanklik beplan het om die lied “Mongolian Rhapsody” te noem.

Die liedjieskrywer, wat in 1991 dood is, het die woord “Mongolian” doodgekrap en met “Bohemian” vervang.

Ander konseplirieke wat tans in New York vertoon word, sluit in nege bladsye van lirieke vir “We Are The Champions”, 19 bladsye van “Somebody to Love” en sewe bladsye van “Don’t Stop Me Now”.

ʼn Rooi notaboek uit die vroeë 1970’s – nog voordat Queen as ʼn groep ’n platekontrak losgeslaan het – is ook te sien. Die lirieke in hierdie notaboek is vermoedelik Mercury se vroegste bekende lirieke.

“In omvang, gehalte en uitsonderlike herkoms bied die versameling lirieke saam ’n ongekende blik op die kreatiewe gedagtes van een van die 20ste eeu se mees invloedryke liedjieskrywers,” sê Sotheby’s.

Die konseplirieke van Don’t Stop Me Now, Somebody to Love en We Are The Champions. (Foto: TIMOTHY A. CLARY / AFP)

Dié afslaer sal Mercury se konseplirieke en meer as 1 500 items uit Mercury se private versameling, waaronder kostuums, in September vanjaar in Londen en aanlyn opveil.

Dié items is grootliks onaangeraak gelaat by Mercury se destydse huis in Wes-Londen.

Die groot verskeidenheid items – wat opgeveil word deur Mary Austin, een van die ikoon se naaste vriende wat hom by sy voormalige huis Garden Lodge versorg het – sal na verwagting minstens £6 miljoen (R146 miljoen) haal.

Die konseplirieke vir “Bohemian Rhapsody” sal na verwagting alleen vir sowat £1,2 miljoen (byna R30 miljoen) opgeveil word.

Die konseplirieke van We Are The Champions.
(Foto: TIMOTHY A. CLARY / AFP)

“Freddie Mercury se skouspelagtige optredes en liedjies word wêreldwyd onthou en gevier,” sê Gabriel Heaton, boek- en manuskripspesialis by Sotheby’s.

“Danksy die beskikbaarheid van hierdie buitengewone versameling vroeë handgeskrewe lirieke kan ons nou ook die absolute vaardigheid as ʼn liriekskrywer ten volle waardeer wat sy volmaakte vertoonkuns aangevul het.”

  • Die versameling konseplirieke en ander items sal van 14 tot 18 Junie in Los Angeles en 26 tot 30 Junie in Hongkong uitgestal word voordat dit op 4 Augustus na Londen geneem sal word vir ʼn maandlange uitstalling voor die veilings.

Die konseplirieke van Somebody to Love. (Foto: TIMOTHY A. CLARY / AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.