‘Friends’: Akteurs ‘verpletter’ oor Perry se dood

Die bekende rolverdeling van ‘Friends’. Voor van links na regs is Courteney Cox, Jennifer Aniston en Lisa Kudrow. Agter is Matthew Perry, Matt LeBlanc en David Schwimmer. (Foto: HBO Max)

Jennifer Aniston, Courteney Cox, Lisa Kudrow, Matt LeBlanc en David Schwimmer – akteurs van die trefferreeks Friends – het twee dae ná die dood van hul medester Matthew Perry ʼn gesamentlike verklaring uitgereik.

“Ons is almal heeltemal verpletter oor Matthew se afsterwe. Ons was meer as net medeakteurs, ons is familie,” lui die verklaring wat deur Perry se vyf medesterre onderteken is. Die verklaring het op NBC se webtuiste verskyn. Dit is die televisienetwerk waarop Friends aanvanklik uitgesaai is.

“Daar is nog soveel om te sê, maar op die oomblik gaan ons tyd neem om te treur en hierdie onpeilbare verlies te verwerk.

“Ons sal mettertyd meer sê, soos en wanneer ons kan. Vir nou is ons gedagtes by Matty se familie, sy vriende en almal wat hom liefgehad het reg oor die wêreld.”

Maroela Media het berig dat Perry (54) Saterdag dood by sy huis in Los Angeles aangetref is. Die nooddienste het Perry bewusteloos in ʼn borrelbad by sy huis gevind en kon nie daarin slaag om hom by te bring nie.

Perry, ʼn selferkende dwelm- en alkoholverslaafde, het die rol van Chandler Bing vir tien seisoene, van 1994 tot 2004, in Friends vertolk.

Matthew Perry (Foto: Noam Galai/Getty Images/AFP)

Die nuus van Perry se skielike afsterwe het reaksie gelok van talle Hollywood bekendes en Friends-aanhangers wêreldwyd. Huldeblyke het oor die naweek ingestroom van mense soos Gwyneth Paltrow, Marta Kauffman en David Crane, die skeppers van die geliefde Friends-reeks, en Maggie Wheeler, wat Chandler se meisie Janice op die skerm gespeel het.

Intussen het mense in Los Angeles voor Perry se huis bymekaargekom om blomme te lê, en in New York se West Village het aanhangers buite die Friends-woonstelgebou saamgetrek om hulde te bring.

Die oorsaak van Perry se dood is nog nie bekend nie. ’n Aanvanklike nadoodse ondersoek was onoortuigend, en die resultate van toksikologiese toetse is nog nie bekendgemaak nie.

Die vermaaklikheidsnuuswebwerf TMZ het bronne aangehaal wat sê dat geen onwettige dwelms by sy huis gevind is nie, hoewel verskeie voorskrifmedikasie ontdek is, insluitend antidepressante en angsmedikasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Danie ·

Dis it ongelukkig die probleem met dwelms. Jy kry nooit genoeg nie. Een of ander tyd neem daardie selfde dwelm you lewe. Dit is ongelukkig nie of nie, maar net wanneer. Daar is selde mense, wat daaraan verslaaf is, wat dit tot my 60 maak.

Jillian ·

So hartseer. Ek is ‘n groot friends fan. So het elke huis maar sy kruis. Van buite af lyk die sprokie so mooi maar binne het almal maar iets waarmee hulle worstel. Rus sag Matthew Perry :(

Bertie ·

Baie waar, Jullian. Stem met jou saam. Hy was baie eensaam, soos ek verstaan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.