Geskiedenisboffin vind skepe wat in 1878 gesink het

Duiker John Scoles op 24 Augustus 2019 by die wrakke (Foto: John Janzen via AP)

ʼn Duiker en maritieme geskiedeniskenner het twee skoeners gevind wat meer as 140 jaar gelede gebots en in die koue dieptes van Michiganmeer gesink het.

Bernie Hellstrom, van Boyne City in Michigan, het gesê hy was ongeveer 10 jaar gelede op soek na skeepswrakke toe ʼn diepte-sender op sy boot ʼn groot voorwerp ongeveer 60 meter op die bodem van die meer naby Beaver-eiland opgemerk het.

“Ek was al honderd keer by Beaver-eiland en ek skakel elke keer die diepte-sender aan,” het hy Vrydag aan die Associated Press gesê. “Maar as mens iets opmerk wat nie normaal is nie, dan keer jy terug. Meeste daarvan is niks anders as skole visse nie. Hierdie was 400 voet (ongeveer 121 m) boot. Daar is niks so groot wat in die gebied verdwyn het nie.”

Hy het in Junie na die gebied teruggekeer met ʼn doelgemaakte kamerastelsel en die Peshtigo en St Andrews ongeveer drie meter van mekaar af ontdek. Die romp van die een boot het baie skade opgedoen.

Deel van die wrakke (Foto: John Janzen via AP)

Daar is geglo die skepe het in 1878 verder oos, in die Mackinac-seestraat in Huronmeer, gesink. Slegs een skip kon gevind word en daar is geglo dat dit die St Andrews was. “Hulle het nooit die tweede boot gevind nie,” het die 63-jarige Hellstrom gesê.

Hy het tegniese duikers na die toneel gebring om ʼn video van die wrakke te verfilm. Brendon Baillod, ʼn mariene historikus van Madison, Wisconsin in die VSA, is aangestel om die raaisel te help oplos.

Baillod het gesê hy het ou koerantberigte gelees en uitgevind die Peshtigo en die St Andrews het teen mekaar gebots en tussen Beaver en Fox-eiland, noordwes van Charlevoix, Michigan, gesink.

Die Peshtigo was 49 m lank en het steenkool vervoer. Die St Andrews was 43 m lank en het graan vervoer. Die botsing is toegeskryf aan ʼn verwarring in fakkelseine.

Twee bemanningslede van die Peshtigo het in die water verdwyn. Oorlewendes van albei skepe is deur ʼn ander skoener gered, aldus Baillod.

Volgens Wayne Lusardi, ʼn maritieme argeoloog van Michigan, is die ontdekking “absoluut fantasties”. “Mens kan aanvoer enige nuwe ontdekking is belangrik, want dit bied mens ʼn eerstehandse kykie na iets wat vir so lang tyd verdwyn het en vermis was.”

Cathy Green, uitvoerende direkteur van die Wisconsin Maritieme Museum in Manitowoc, het gesê daar is na verwagting ongeveer 6 000 skeepswrakke op die bodem van die Groot Mere. “As jy daaroor nadink, sou stede soos Chicago, Detroit en Milwaukee nooit sonder die waterweë kon ontwikkel nie. Wanneer oorblyfsels van daardie geskiedenis gevind word, is dit belangrike nuus vir geskiedkundiges en argeoloë.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

humor ·

Kom ons soek na n ander woord vir boffin dit klink net nie vir my lekker nie.

Seemonster ·

Ek kan nie dink aan ‘n ander woord as “kenner” nie . . . .

Vraagteken ·

Iets maak nie lekker sin vir my nie. As die St.Andrews al jare terug ontdek is, hoe het hulle nie destyds die Peshtigo ook gesien nie ( wat net 3m uitmekaar is)?

Beteken dit dat hulle destyds ‘n ander boot ontdek het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.