Geskiedkundige ooreenkoms onderteken om oop see te beskerm

Argieffoto (Foto: Angelo Giordano/Pixabay)

Ledestate in die Verenigde Nasies (VN) het Saterdag finaal ooreengekom op die eerste internasionale ooreenkoms ná jare se onderhandelings om die oop see te beskerm – ʼn brose en noodsaaklike skat wat byna die helfte van die planeet bedek.

“Die skip het die kus bereik,” het Rena Lee, voorsitter van die konferensie, Saterdagaand by die VN se hoofkantoor in New York aangekondig, met ʼn luide applous van afgevaardigdes.

Die presiese bewoording van die ooreenkoms is nie dadelik vrygestel nie, maar aktiviste loof dit as ʼn deurbraak vir die beskerming van biodiversiteit ná meer as 15 jaar se gesprekke.

Die ooreenkoms word beskou as ʼn noodsaaklike element om 30% van die wêreld se oseaan teen 2030 te bewaar, soos bepaal deur wêreldregerings in ʼn geskiedkundige ooreenkoms wat in Desember in Montreal onderteken is.

“Dit is ʼn geskiedkundige dag vir bewaring en ʼn teken dat die beskerming van die natuur en mense kan triomfeer bo geopolitiek in ʼn verdeelde wêreld,” het Greenpeace se Laura Meller gesê.

Virginijus Sinkevicius, kommissaris van omgewingsake by die Europese Unie, het Sondag die ooreenkoms as “ʼn noodsaaklike stap vorentoe” beskryf om mariene lewe en biodiversiteit te beskerm wat “noodsaaklik is vir ons en die geslagte wat nog kom”.

Ná twee weke se intense gesprekke, insluitend ʼn marathon deurnagsessie Vrydag, het afgevaardigdes die inhoud van die ooreenkoms gefinaliseer en dit kan nou nie meer beduidend verander word nie.

“Geen noemenswaardige gesprekke sal nou hervat word nie,” het Lee aan onderhandelaars gesê.

Die ooreenkoms sal later formeel aanvaar word sodra prokureurs dit goedgekeur het en dit in die VN se ses amptelike tale vertaal is, het sy bygevoeg.

Antonio Guterres, sekretaris-generaal van die VN, het ook die afgevaardigdes geloof.

‘Noodsaaklike rol’

Argieffoto (Foto: joakant/Pixabay)

Die oop see begin by die grens van lande se eksklusiewe ekonomiese sones wat tot 200 seemyl (sowat 370 km) van kuslyne strek. Dit val dus onder geen land se jurisdiksie nie.

Alhoewel die oop see meer as 60% van die wêreld se oseane beslaan en byna die helfte van die planeet se oppervlak, het dit vir baie lank baie minder aandag ontvang as kuswater en ʼn paar ikoniese spesies.

Oseaan-ekostelsels stel die helfte van die suurstof wat mense inasem vry en beperk aardverwarming deur koolstofdioksied te absorbeer wat deur menslike aktiwiteit uitgelaat word. Dit word egter bedreig deur klimaatsverandering, besoedeling en oorbevissing.

Slegs sowat 1% van die oop see word tans beskerm.

Wanneer die nuwe ooreenkoms van krag kom, sal mariene beskermde gebiede in dié internasionale water geskep word.

“Mariene beskermde gebiede in die oop see kan ʼn noodsaaklike rol speel om weerstandigheid op te bou teen die impak van klimaatsverandering,” sê Liz Karan van die Pew Charitable Trusts, wat die ooreenkoms as “ʼn wonderlike prestasie” beskryf het.

Die ooreenkoms sal lande ook verplig om omgewingsimpakstudies te doen van voorgestelde aktiwiteit op die oop see.

ʼn Sensitiewe hoofstuk oor die verdeling van moontlike voordele van nuut ontdekte mariene hulpbronne was een van die punte wat spanning tussen afgevaardigdes veroorsaak het, voor dit uiteindelik oorkom is.

Meevallerwins

Argieffoto (Foto: Pexels/Pixabay)

Ontwikkelende lande, wat nie die hulpbronne het om omvattende navorsing te doen nie, het baklei om seker te maak dat hulle nie uitgesluit word uit die verwagte meevallerwins uit die kommersialisering van moontlike stowwe wat in internasionale water gevind word nie.

Wins sal uiteindelik waarskynlik afkomstig wees uit die farmaseutiese, chemiese of kosmetiese gebruik van nuut ontdekte mariene stowwe wat aan niemand behoort nie.

Net soos in ander internasionale forums, veral klimaatsonderhandelings, het die debat uiteindelik daarop gefokus om gelykheid te verseker tussen armer suidelike lande en die ryker noorde.

Die EU het, in ʼn poging om vertroue te wek tussen ryker en armer lande, onderneem om €40 miljoen te skenk om die bekragtiging van die ooreenkoms te verseker.

Die EU het ook $860 miljoen aangekondig vir navorsing, monitering en bewaring van oseane in 2023 by die Our Ocean-konferensie in Panama wat Vrydag tot ʼn einde gekom het. Panama sê lande het $19 miljard beloof.

Die VN se algemene vergadering het in 2017 ʼn resolusie aanvaar met ʼn versoek aan lande om ʼn ooreenkoms oor die oop see te onderteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eugene ·

Hoe lekker lag ek nou. “Geskiedkundige ooreenkoms om die oop see te beskerm”. Wat is daar om op die see te beskerm ramp-phosa??? Niks. Daars nie misdaad en bedrog of korrupsie nie en plaas moorde nie. Stel ooreenkoms met plaasmoorde en beurtkrag en korrupsie. Die see pla niemand nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.