Hamas laat twee gyselaars vry

Judith Tai Raanan en haar dogter Natalie Shoshana Raanan praat met pres. Joe Biden oor die foon ná hul vrylating. (Foto: POTUS)

Die Palestynse militante groep Hamas het hul eerste twee gyselaars, ’n Amerikaanse vrou en haar dogter, vrygelaat.

Judith Tai Raanan (59) en haar dogter Natalie Shoshana Raanan (17) was teen Vrydagaand laat veilig terug in Israel nadat Egipte en Katar met Hamas-leiers onderhandel het om die twee Amerikaners om “humanitêre redes” vry te laat.

Die vrou en haar dogter was glo met vakansie in Israel toe hulle op 7 Oktober by die Nahal Oz-kibboets naby die grens tussen Israel en Gasa tydens ʼn aanval as gyselaars geneem is.

Meer as 200 gyselaars word die afgelope twee weke in Gasa aangehou nadat Hamas die betrokke dag ʼn verrassingsaanval op Israel geloods het. Volgens die Israelse weermag leef die “meerderheid” van die gyselaars nog.

Joe Biden, die Amerikaanse president, was “verheug” oor die twee vroue se vrylating en het reeds telefonies met hulle in verbinding getree.

ʼn Israelse gesant het die twee vroue Vrydag by die Gasa-grens ontmoet en na ʼn militêre basis in sentraal-Israel geneem waar familie hulle ingewag het.

Hamas sê hy werk saam met Katar en Egipte om sy “burgerlike” gyselaars te bevry. Daar word nou gehoop dat nog vrylatings binnekort kan volg. Gyselaars se getraumatiseerde families glo egter daar kan meer gedoen word om hul geliefdes se veilige terugkeer te verseker.

“Absoluut niks word gedoen nie,” sê Assaf Shem Tov, wie se neef op 7 Oktober by die Supernova-musiekfees in die omgewing van Kibboets Reim, naby Gasa as gyselaar geneem is.

“Ons vra die mensdom om in te meng en al daardie jong seuns, jong meisies, moeders, babas terug te bring.”

Die kantoor van Benjamin Netanyahu, Israel se eerste minister, het gesê die Israelse regering sal “enige beskikbare middel gebruik om al die vermistes op te spoor en almal wat ontvoer is huis toe te bring”.

Mirjana Spoljaric, president van die Internasionale Komitee van die Rooi Kruis, sê die organisasie het gehelp om die bevryde Amerikaners na Israel te vervoer.

Spoljaric sê hul vrylating verskaf ʼn “brokkie hoop” vir die families van ander gyselaars en sy het ʼn beroep op alle partye in die konflik gedoen om “ʼn minimum van menslikheid” te toon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.