‘Hannibal’-ster (37) sterf ná ski-ongeluk

Franse akteur Gaspard Ulliel (Mei 2019) (Foto: Laurent Emmanuel/AFP)

Die Franse akteur Gaspard Ulliel, wat ʼn jong Hannibal Lecter en Yves Saint Laurent gespeel het, is Woensdag in die ouderdom van 37 dood ná ʼn ski-ongeluk, het sy familie gesê.

Ulliel het ʼn treffende gesig gehad en was reeds bo aan die lys van Franse akteurs. Hy het internasionaal aandag getrek vir sy rol as die berugte kannibaal in Hannibal Rising in 2007. Hy het ook ʼn hoofrol gehad in die nuwe Marvel-TV-reeks Moon Knight wat in Maart op Disney+ vrygestel word.

Sy familie het sy afsterwe bevestig. Dit volg ná ʼn ski-ongeluk wat Dinsdag plaasgevind het, aldus ʼn verklaring wat sy agent aan AFP gegee het.

Ulliel het ʼn Cesar gewen, die Franse ekwivalent vir ʼn Oscar, as beste akteur in 2017 vir It’s Only the End of the World waar hy saam met Marion Cotillard en Lea Seydoux verskyn het. Hy het in 2005 ook ʼn Cesar-toekenning ontvang vir die mees belowende akteur ná die Eerste Wêreldoorlogdrama A Very Long Engagement saam met Audry Tautou.

Hy was ook in Saint Laurent te sien, een van twee bio-flieks oor die legendariese ontwerper wat in 2014 vrygestel is.

Ulliel is op 25 November 1984 net buite Parys gebore. Hy het ʼn klein litteken gehad waar ʼn hond hom as ʼn kind gebyt het. Hy sê dit het hom gehelp, want dit het soos ʼn wangkuiltjie gelyk.

Hy was maar 11 jaar oud toe hy in flieks begin verskyn het en het in 2003 en 2004 twee Cesar-nuweling-nominasies ontvang.

Hy het ook modelwerk gedoen, insluitend ʼn kontrak as die gesig van ʼn Chanel-naskeermiddel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Shakespeare ·

Hartsverskeurend. Duisende wat in Suid Afrika, wat as kriminele floreer leef tot hulle 90 jaar oud is. Sad…..extremely sad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.