Harry, Meghan in ‘byna katastrofiese’ jaagtog

Meghan Markle en prins Harry tydens die die Robert F. Kennedy Menseregte-organisasie (RFKHR) se galafunksie in New York. (Desember 2022) (Foto: Angela Weiss/AFP)

Prins Harry en sy vrou Meghan Markle was betrokke in ʼn “byna katastrofiese motorjaagtog” met paparazzi in New York, het ʼn woordvoerder vir die egpaar Woensdag gesê.

Die voorval het Dinsdagaand gebeur ná Harry en Meghan ʼn toekenningseremonie in Amerika se finansiële hoofstad bygewoon het.

Meghan se ma, Doria Ragland, was saam met hulle in die voertuig, het die woordvoerder in ʼn verklaring aan AFP gesê.

“Die hertog en hertogin van Sussex en me. Ragland was gisteraand in ʼn byna katastrofiese motorjaagtog betrokke weens ʼn groep hoogs aggressiewe paparazzi. Die genadelose jaagtog, van meer as twee ure, het byna verskeie ongelukke met ander padgebruikers, voetgangers en NYPD-beamptes tot gevolg gehad,” het die woordvoerder gesê.

“Alhoewel ʼn openbare figuur belangstelling uitlok van die publiek moet dit nooit ten koste van enigiemand se veiligheid wees nie.

“Die verspreiding van dié foto’s, gegewe die manier waarop dit bekom is, moedig ʼn hoogs indringende praktyk aan wat gevaarlik is vir almal wat daarby betrokke is.”

ʼn Woordvoerder vir die New Yorkse polisiedepartement het nie dadelik reageer op ʼn versoek om kommentaar te lewer nie.

Harry (38) en Meghan (41) het die Ms. Foundation for Women-seremonie bygewoon waar Meghan ʼn toekenning ontvang het.

Die egpaar het vroeg in 2020 hul pligte as koninklikes laat vaar en van Brittanje na die VSA verhuis, gedeeltelik weens intense media-belangstelling.

Harry blameer jare lank al die media vir die oorsaak van sy ma, prinses Diana, se afsterwe tydens ʼn motorongeluk in Parys in 1997 toe paparazzi haar agtervolg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Albie ·

Ag die ou tweetjies is altyd vol drama! As jy so in die openbaar leef moet jy maar die punch vat.
..of by die huis bly!

Samuel ·

Die tweetjies geniet hierdie media belangstelling. Nou het hulle weer iets om te herkou.

Hennie Biebouw ·

Aandagvrate….Ek vermoed die rooikop het met die kroning van sy pa, besef tot watter vlakke van irrelevansie hy homself gereduseer het.

TruthDealer ·

Wonder hoekom hul nie bestuurder beveel het om stil te hou sodat die papparazzi kon foto’s neem nie? Hul kry mos nooit genoeg aandag nie. Hier was n goeie geleentheid. O ek vergeet, dan was daar nie drama en materiaal vir nog onderhoude en boeke nie. Ek sal maar niks verder sê nie, maar ek het my bedenkinge oor hierdie hele storie.

AH ·

Hoekom vir die paparazzi probeer wegjaag? Klink of hulle drama wou hê! Deur rustig en kalm hul gang te gaan sou de paparazzi gou genoeg verveel het, maar klink vir my hulle was nou té lank laas in die kollig …….

annie ·

Alles juis net om aandag te trek. Hoekom nie hulle laat afneem nie? Dit is wat hulle soek, maar nou haal dit die hoofnuus. Harry en Megan maak ‘n gek van hulself in hul proging om met William en Kate te kompeteer. Gevaarlike aandag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.