Herrie oor Harry se polisiebeskerming misluk in hof

Prins Harry, die hertog van Sussex. (Foto: Daniel Leal/AFP)

Prins Harry, die hertog van Sussex, se poging om die Britse regering uit te daag oor privaat betalings vir polisiebeskerming wanneer hy in die Verenigde Koninkryk is, het Dinsdag in die hooggeregshof in Londen misluk.

Die hertog het hom verlede jaar tot die Britse howe gewend nadat die regering geweier het dat hy uit sy eie sak vir dié beskerming, ʼn voorreg wat hy as ʼn werkende koninklike gratis geniet het, wou betaal.

Maroela Media het vroeër berig dat prins Harry en sy gesin, wat tans in Kalifornië in die VSA woon nadat hulle in 2019 finaal van hul koninklike pligte afstand gedoen het, die reg tot polisiebeskerming, waarvoor Britse belastingbetalers moet opdok, verloor het.

Die BBC berig dat prins Harry se prokureurs vir ‘n geregtelike hersiening van die verwerping van sy aanbod gevra het nadat die uitvoerende komitee vir die beskerming van koninklikes en openbare persone, bekend as Ravec, sy aanbod afgekeur het.

Prins Harry en Meghan Markle. (Foto: AP Photo/Frank Augstein)

Prins Harry se regspan is van mening dat Ravec, wat sekuriteit vir hoëprofielfigure, insluitend senior koninklikes, hanteer, “sy gesag en mag oorskry het”.

Hulle het ook aangevoer dat Britse-wetgewing voorsiening maak vir die betaling vir “spesiale polisiedienste” en dat betaling van dié aard dus “nie teenstrydig met die openbare belang nie”.

Regter Martin Chamberlain het egter Dinsdag prins Harry se aansoek om Ravec se beslissing te betwis in die hof afgekeur. Dié uitspraak het gevolg op ‘n eendagverhoor in Londen verlede week.

Prokureurs vir die ministerie van binnelandse sake het tydens dié verhoor aangevoer dat dit “nie gepas” is vir ryk mense om beskermende sekuriteit van hierdie aard te “koop” nie, veral wanneer dit volgens hulle nie in die openbare belang is nie.

Die Londense Metropolisie het ook Harry se aanbod in die hof teengestaan, aldus AFP.

Dié uitspraak volg ook kort nadat hy, sy vrou Meghan Markle en haar ma, Doria Ragland, onlangs na bewering in ʼn “byna katastrofiese motorjaagtog” met paparazzi in New York was.

Harry, Meghan en Meghan se ma, Doria Ragland, Dinsdagaand in New York. (Foto: Twitter)

Harry en Meghan het die Ms. Foundation for Women-seremonie bygewoon waar Meghan ʼn toekenning ontvang het.

Die taxibestuurder wat die groep daardie aand vervoer het, het intussen aan die media gesê dat “die hele storie oordryf word” en dat hulle paparazzi vir sowat tien minute moes afskud, maar nooit volgens hom in werklike gevaar was nie.

Die New Yorkse polisie het ook gesê dat “talle” fotograwe Prins Harry-hulle se reis “uitdagend” gemaak het, maar dat daar geen botsings, beserings of inhegtenisnemings aangemeld is nie, berig CNN.

Prins Harry en Meghan se woordvoerder het ook bespiegelings dat hulle hul motorjaagtog in New York oordryf het om publisiteit te kry ten sterkste veroordeel.

Die egpaar se woordvoerder, Ashley Hansen, het met verwysing na prinses Diana se noodlottige motorongeluk met paparazzi in 1997, bewerings dat prins Harry en Meghan se voorval ʼn mediafoefie was, as “afskuwelik” gebrandmerk, berig Page Six.

Hoekom wil prins Harry polisie beskerming in die VK hê?

Maroela Media het vroeër berig dat prins Harry se regsverteenwoordiger in 2022 aangevoer het dat die hertog se private sekerheidspan in die VSA nie die voldoende jurisdiksie of toegang tot Brittanje se intelligensie het om sy familie te beveilig nie.

Hy is na bewering ook in 2021 tydens ʼn besoek aan die VK in gevaar gestel weens die afwesigheid van polisiebeskerming terwyl hy ’n liefdadigheidsgeleentheid verlaat het.

Buzzfeed News het ook berig dat Brittanje se streng vuurwapenwetgewing, wat verhoed dat private sekerheidsmaatskappye vuurwapens dra, moontlik Harry se besluit beïnvloed.

Bronne: AFP, BBC, Page Six, CNN, Buzzfeed News.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

melaney ·

Harry en sy wederhelf stel glad nie belang om in die kollig te wees nie. Die ganse wêreld stel glad nie meer belang in hulle nie. Tog sorg die twee dat hulle elke dag die voorblad haal, en die ganse wêreld sit regop. Ek verstaan dit glad nie.

George ·

Hulle sal altyd die spotlight wil he, maar nie as koningklikes nie. Sonder die publiek sal hulle niks werd wees nie. Mense is gefasineerd met royals.

Juanita ·

Laat my wonder op watter planeet ek woon aangesien jy namens die hele wêreld praat en ek glad nie so daaroor voel nie. Soos die engelse sê…. “Speak for yourself” Ek hou baie meer van Harry en Megan as van William en Kate.

Althes ·

Harry wil uit die kollig, Meghan wil in die kollig wees.
Dis tyd dat hul besef hulle is nie meer so relevant soos wat hul gehoop het nie. Dok maar op vir jou eie sekuriteit in VK, jy kan dit seker bekostig?

domheks ·

Harry en Megan se stories maak my naar! Hulle moet maar daal na die gewone plebs.

Gert ·

Ek kan nie help as om net uit te bars van die lag oor die “familie foto” nie.

Lillian ·

Ek stem. Nie juis mooi nie. Lyk soos iets uit die Bridgeton series op Netflix

Veronika ·

Ag genade tog wat sal hle nou nog doen om tog net nog in die openbare oog aandag te kry?? Jy het Engeland verlaat om daaruit weg te kom so bly nou daar en bly uit die openbare oog en kruip weg dat niemand weet waar jul is nie!! Is wat jy wou hê!!

Pieter ·

En so word ons maar almal deel van ons eie geskiedenis ne. Ons kan nie weg hardloop want dit volg ons soos ons skaduwees…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.