Herrie oor Zara se ‘Gaza-advertensies’

(Foto uit Zara-advertensieveldtog)

Die Spaanse modehandelsmerk Zara het ʼn omstrede advertensieveldtog met lyksakke teruggetrek ná ʼn herrie aanlyn toe dit met die oorloggeteisterde Gaza vergelyk is.

Zara, wat deur Spanje se Inditex, die wêreld se grootste klerehandelaar besit word, het die bewerings ontken, maar het tog die omstrede foto’s van sy webwerf verwyder.

“Van ons klante het ongelukkig aanstoot geneem deur die foto’s. Dit is nou verwyder. Sommige klante het in die foto’s iets gesien wat baie ver verwyderd is van die bedoeling wat ons daarmee gehad het toe dit geskep is,” het Zara in ʼn aanlyn verklaring gesê.

In een van die foto’s hou ʼn oënskynlik bloedarm model ʼn liggaam oor haar skouer wat in plastiek toegedraai is. In ʼn ander foto lê die bedekte vorm by haar voete terwyl sy op stukke puin, afgebreekte mure en ander tekens van verwoesting staan.

Die veldtog het dadelik opslae gemaak op sosiale media. Talle reken dit steek die draak met die verwoesting in Gaza waar Israel aanvalle geloods het ná die Hamas-aanvalle op 7 Oktober.

In een boodskap op X (Twitter) het die gebruiker ʼn foto van ʼn ma van Gaza, wat die liggaam van ʼn kind omhels wat in wit toegedraai is, digitaal bo-op die advertensiefoto ingevoeg. Talle gebruikers het ʼn boikot teen die handelsmerk versoek.

Argieffoto (Foto: Praswin Prakashan / Unsplash)

Zara het in reaksie op die advertensieveldtog gesê dit is “reeds in Julie uitgedink en die foto’s is in September geneem”.

Die idee was glo “ʼn reeks foto’s van onvoltooide werke in ʼn beeldhouer se ateljee” en dit is geskep “met die uitsluitlike doel om handgemaakte kledingstukke in ʼn artistieke konteks uit te beeld”.

Zara het om verskoning gevra vir die “misverstand” en benadruk sy “uiterste respek jeens almal”.

Inditex het aan die begin van die Gaza-oorlog gesê hy sluit tydelik sy 84 Zara-winkels in Israel tot verdere kennisgewing. Die oorlog het op 7 Oktober begin toe Hamas-militante die suide van Israel bestorm het. Altesaam 1 200 mense, hoofsaaklik siviele burgers, is oorlede en 240 ander is ontvoer, aldus Israel.

Israel het gereageer met ʼn weermagaanval op Gaza. Volgens die Hamas-beheerde gesondheidsministerie is meer as 18 400 mense reeds dood, insluitend duisende vroue en kinders.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gaitsigubib ·

Oor Zara word n hele verhaal geskrywe en verduidelik maar van Balenciaga se advertensies waar hulle kinders suggestief grof uitbeeld is geen woord gerep nie ( en kommentare daaroor delete). Ek sou graag wou hoor of daar n berig verby gesluip het wat ek gemis het maar ek glo nie……….

Johan ·

Ek moet sê, ek het ook nogal aanstoot geneem. Dit is walglik om n volksmoord te gebruik om advertensies te maak. Amper spot te dryf met die 6000plus kinders wat doodgeskiet is. Sioniste is absoluut boos.

pestilensie ·

Waarom die aldus, is dit die begin van die ontkenning oor die palisteine se aanval op Isreal ? Wonder maar net

trotsNAMSA ·

Die sogenaamde modehuise en -bekende persoonlikhede kom al jare weg met soortgelyke situasies. Dink “hulle” ons is dom ? Zara winkel het alreeds +-2 jaar gelede toegemaak in ons nabye inkopiesentrum.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.