Hof verwerp Heard se versoek vir nuwe verhoor

Amber Heard (Foto: Evelyn Hockstein/ POOL/AFP)

’n Regter van Virginië in die VSA het die aktrise Amber Heard se versoek Woensdag verwerp vir ’n nuwe verhoor in die lastersaak wat sy onlangs teen haar gewese man, die akteur Johnny Depp, verloor het.

Heard se prokureurs het regter Penney Azcarate gevra om die jurie-uitspraak – wat meer as $10 miljoen (sowat R170 miljoen) aan Depp toegeken het –  tersyde te stel en ’n wanverhoor te verklaar. Die regter het egter geweier.

Maroela Media het vroeër berig dat Heard nie in staat is om Depp meer as $10 miljoen in skadevergoeding te betaal nie. ’n Jurie in die VSA het hoofsaaklik die kant van die Pirates of the Caribbean-ster gekies in ’n erge, uitgerekte lastersaak oor bewerings van huishoudelike mishandeling.

Johnny Depp. (Foto: Frank Augstein, AP)

Heard het nou ’n nuwe verhoor versoek omdat een van die sewe jurielede nie die man was wat aanvanklik vir juriediens gedagvaar is nie, maar sy seun.

“Daar is geen bewyse van bedrog of oortreding nie,” het Azcarate gesê. Sy het bygevoeg dat die jurielid aan die “statutêre vereistes vir diens voldoen”.

“Die jurielid is gekeur, was regdeur die verhoor teenwoordig, het saam met ander jurielede beraadslaag en tot ’n uitspraak gekom.”

Die saak, wat regstreeks na miljoene kykers uitgesaai is, het skokkende en intieme besonderhede oor die Hollywood-bekendes se private lewens bevat.

’n Jurie van sewe het bevind dat Depp en Heard mekaar belaster het, maar grootliks ten gunste van Depp beslis. Die jurie het hom $10,35 miljoen in skadevergoeding toegestaan, in teenstelling met vergoeding van $2 miljoen vir Heard.

Johnny Depp en Amber Heard in gelukkiger tye (Foto: VALERIE MACON/AFP)

Depp het die hof se uitspraak as ’n oorwinning gevier nadat hy vroeër ’n lastersaak teen The Sun-koerant in Londen verloor het toe hulle hom “’n vroueslaner” genoem het.

Die jurie het die skadevergoeding van $10 miljoen aan Depp toegeken nadat hulle bevind het dat ’n koerantartikel wat in 2018 deur Heard oor haar ervaring van “seksuele geweld” geskryf is, inderdaad lasterlik was.

Die 59-jarige Depp het Heard gedagvaar oor dié artikel in die Washington Post waarin sy haarself beskryf as ’n “openbare figuur wat verteenwoordigend is van huishoudelike mishandeling”. Depp se naam is nie in die artikel genoem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Roebs ·

Heard gaan weg. Ons wil jou nie weer hoor nie. My dog stepped on a bee we don’t want to hear you go whee wheeeeee.

Miena ·

Hoe weet sy dat iemand (die seun) anders was en nie die regte persoon wat op die jurie moes dien nie? Het sy dalk onderlangs met iemand gereel (teen betaling) om n plek in te neem? En toe dinge nie uitwerk vir haar nie, kom sy met die storie vorendag? Ek dink ek moet n fliek maak met al die oorspronklike “akteurs” van hierdie hele saga. Dalk sal sy dan kan bekostig om Johnny se geld te betaal.

Martin ·

‘n sielkundige in Amerika beskryf Amber Heard se persoonlikheid as ‘selfregverdig’ en ‘vol woede’.

Niklaas ·

Ek is verheug dat hierdie valse poppie die wind van voor gekry het. Met leuens wou sy miljoene mense se simpatie wen en agter haar skaar en toe misluk dit. Haar filmwerk potensiaal is ook aan flarde , want regdenkende rolprentmakers gaan haar netjies vermy in die toekoms.

Piet ·

Die eerste man wat n vrou verkeerd bewys……. Ek sou ook hof toe om daai feit te verander…… lol…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.