‘Humanitêre deurgange’ vol landmyne, tenks

Mense spook Maandag om ‘n trein in Odessa te haal. (Foto: BULENT KILIC / AFP)

Rusland sal glo Dinsdagoggend humanitêre deurgange oopstel sodat burgerlikes uit die beleërde Oekraïense stede Kiëf, Marioepol, Kharkiv en Soemi kan vlug.

Die Oekraïense regering is egter nie oortuig dat burgerlikes vandag toegelaat sal word om uit dié land te vlug nie en beskuldig Rusland daarvan dat dit bloot ’n publisiteitsfoefie is.

Die Russe se aanbod om inwoners te laat vlug word boonop veroordeel omdat dit onderworpe is aan ’n lys van roetes, waarvan die meeste na Rusland of sy bondgenoot Belarus lei.

Rusland het ook die naweek planne vir humanitêre deurgange aangekondig, maar dié planne het misluk.

Wolodimir Zelenski, Oekraïne se president, het in ’n video op Telegram gesê die humanitêre deurgange waarop ooreengekom is, het nie gewerk nie, aangesien Russiese tenks, vuurpyllanseerders en landmyne burgerlikes se pad versper het.

Zelenski het voorts gesê Russiese troepe het busse vernietig wat burgerlikes uit die gevegsones moes neem.

“Hulle maak seker dat slegs ’n klein deurgang na die besette gebied slegs vir ’n hand vol mense oop is. Dit is nie net die pad na Rusland toe nie, maar ook na die propagandiste en televisiekameras,” het hy gesê.

Die Franse president Emmanuel Macron veroordeel ook die Russe se plan.

“Ek ken nie baie Oekraïners wat na Rusland wil gaan nie,” het Macron gesê. Die Fransman meen ’n volledige wapenstilstand eerder as deurgange is nodig om burgerlikes te beskerm.

Die VN se top‑ humanitêre amptenaar, Martin Griffiths, het ook gesê burgerlikes moet toegelaat word om die land in die rigting van hul keuse te verlaat.

Minstens 406 burgerlikes is dood sedert Russiese troepe Oekraïne twee weke gelede binnegeval het.

Joernaliste van AFP het Maandag gesien hoe duisende burgerlikes via ’n nie-amptelike ontsnappingsroete van Irpin, ’n voorstad wes van Kiëf, na dié hoofstad gevlug het.

Kinders en bejaardes is op matte gedra wat as draagbare op die roete gebruik is. Hulle is oor ’n tydelike brug en langs ’n enkelpad gelei wat deur die weermag en vrywilligers beveilig is.

“Ons het geen elektrisiteit by die huis gehad nie, geen water nie, ons het net in die kelder gesit,” het Inna Scherbanyova (54), ’n ekonoom van Irpin, aan AFP gesê.

Vlugtelinge wat met ooreengekome ontsnaproetes uit die stad probeer vlug het, is gestrand gelaat omdat dié pad vol landmyne is.

Zelenski het Maandag opnuut onderneem om in Oekraïne te bly namate Russiese magte die hoofstad nader.

“Ek bly in Kiëf. Ek kruip nie weg nie. En ek is vir niemand bang nie,” het hy laat Maandag in ’n video gesê. Volgens Zelenski sal sy regering alles moontlik doen om die “oorlog te wen”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

domheks ·

Onthou Putin se mense is veilig in Switserland! Kan iemand hulle gaan besoek?

Delia ·

Hys n psigopaat.
Hoekom skop Switserland nie sy familie uit nie.

Luister ·

Ah, so jy reken hierdie berig is verkeerd? Dit is natuurlik ook maar net propaganda dat boere vermoor word op hulle plase.

Kokerboom ·

My vraag is net: Wat word bereik met die onmenslike lyding, ontwrigting, verwoesting/vernietinging? Wie gaan betaal vir heropbou? Word aggressors ooit tot verantwoording geroep? Menslike ego’s is uiters gevaarlik!!

Andrew ·

Was dit jou reaksie toe die Ameikaners Libie, Afghanistan, Irak in geval het?

Gilla ·

Jy kan dit nie vergelyk nie. Die agtergrond is heeltemal verskillend en onthou, daardie oorlog was as gevolg van 9/11. Ukraine het nie Rusland gebombardeer en nou veg Rusland terug nie. Skole en talle wonings word ook gebombardeer. Van die mense wat wou vlug, is doodgeskiet terwyl hulle vlug, met hulle tasse. Jy kan dit nooit in jou lewe vergelyk nie.

Dirk Mostert ·

Jy ken bloot nie die agtergrond nie. Irak is ingeval weens ‘n vals CIA-berig van wapens van massa-vernietiging wat Saddam Hoessein kwansuis sou gehad het. Die CIA-gestookte burgeroorlog in Sirie was ‘n poging om n regering omver te werp (soos suksesvol in die Oekraine, 2014). Sedert 2014 bombardeer die Kiev-magte die mense in Donbas. Toe was die wereld media tjoepstil.

Burt ·

Ja, maar kyk waaroor dit gaan. Ukraine wil by NATO aansluit, EN watter grondstowwe ens is daar?

Marius ·

Kommuniste kan nie vertrou word nie. Hul bedoel nooit wat hul sê nie en is agterbaks. Die oorlog is lankal verby. Die rooi oormag gaan nou net hul wil afdwing. Daar gaan nie nog onderhandel word nie.

Andrew ·

Was dit jou reaksie toe die Amerikaners Libie, Afghanistan, Irak in geval het? Dwing die weste nie maar ook hulle wil op ander lande nie, en kyk hoeveel mense het toe nou werklik die multikultuur demokrasie in Afghanistan en Irak aangeneem.

minnie muis ·

putin weet hy kan nie ophou nie…. want dan moet hy DEN Hage toe vir “crimes againist humanity”

Jaco ·

Wanneer gaan dié nonsens kommentare dat Rusland kommunisties is nou endkry? Kommunisme het einde 1991 tot ‘n einde gekom in Rusland. Toe het die kommunistiese Sowjetunie, waarvan Rusland die grootste deelstaat was, ook ontbind. Die Russiese Kommunistiese Party is ‘n opposisie party in die Russiese parlement. Dit regeer nie Rusland nie. Putin was in die KGB in die 1980’s en hy was toe kommunisties, maar hy het ook verander. Hy het selfs later by die Russies Ortodokse Kerk aangesluit – VER verwyder van die ateïsme wat die kommuniste verkondig. Rusland het vandag ‘n vrye kapitalistiese ekonomie wat selfs miljoenêrs oplewer. Kan maroelamedia.co.za asseblief ietsplaas oor Rusland wat nie meer kommunisties is nie?

Luister ·

Hulle is dalk nie meer kommunisties nie, maar hulle tree beslis op soos kommuniste.

Thom ·

Daar word gekyk vir wie jy stem ___, wat noem jy die stelsel ?

Zollie ·

Hulle mag dalk nie meer kommunisties wees nie maar hulle gebruik nog steeds kommunistiese metodes.

Human ·

Putin, Trump, Zuma almal voëls van eenderse vere. As hul bekke oopgaan, dan lieg hulle. Dis in hul gene.

Philip ·

Die enigste probleem dat ou Putin as oud KGB kameraad homself so onverdraagsaam is dat hy ondanks sy bekering tot die ortodokse kerk soveel dood en verwoesting saai om sy eie ego te streel miskien n verskuilde kommunis die man.

Di ·

Tipies van ‘n KOMMUNIS! Al wat hulle goed kan doen is LIEG en BEDRIEG

annie ·

Macron word deur Zelensky ingelig gehou en Zelensky besoek die… kleedkamer vir die Siener in sy spieëlbeeld oor watter storie hy nou weer moet opdis. ‘Ek is nie bang nie,’ is sy nuwe volsin vir die dag… Weet iemand of sy ma nog leef? Sy sal ons meer kan vertel oor die mannetjies se grootheidwaan.

Kobus ·

Ek is verbaas hoeveel pro Putin kommentaar daar is. Of Putin lewer kommentaar onder skuilname en afduimpies, of die wat kommentaar lewer besef nie die menslike ellende en verdriet wat afspeel nie. Niks, maar niks regverdig dit nie. Putin is die naaste wat die wereld in 75 jr gekom het aan n Hitler, met magsbehebtheid en boosheid. Ek hoop van harte n oplossing word gevind ter wille van die onskuldige mense aan beide kante.

Dirk Mostert ·

Met die opposisie-media stilgemaak kry ons eensydige oorlogspropaganda van die westers-beheerde media. Rusland word beskuldig van alles wat die Kiev-magte sedert 2014 gedoen het. Dis nie net papier wat geduldig is nie. Ons sal vermoed daar was ‘n kernoorlog as ons hare begin uitval.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.