In Florida ‘reën’ dit iguanas

Foto: (AP Photo/Wilfredo Lee)

Koue temperature in die Amerikaanse deelstaat Florida het tot gevolg dat iguanas “vries” en uit bome val.

“Dit is nie iets wat ons gewoonlik voorspel nie, maar moenie verbaas wees as jy vanaand iguanas uit bome sien val wanneer die temperatuur tot in die 30’s en 40’s [Fahrenheit] val nie,” het die Miami-weerdiens vroeër die week op Twitter aangekondig. Dit is tussen -1 ˚C en 4 ˚C.

Iguanas is koudbloedig en beweeg al stadiger of word heeltemal onbeweeglik wanneer temperature te laag daal.

Dit kan tot gevolg hê dat iguanas wat in bome sit en onbeweeglik raak, dan uit die boom val. Die diere is egter nie dood nie en word weer “wakker” wanneer die temperatuur begin styg.

Foto: (AP Photo/Wilfredo Lee)

Iguanas kan lang tonnels grawe en groot skade aan infrastruktuur aanrig. Die mannetjies kan tot 1,5 m lank word en tot 9 kg weeg.

Vroulike iguanas kan tot 80 eiers per jaar lê, en die warm klimaat in Suid-Florida is ideaal vir die prehistoriese diere.

Iguanas is inheems aan Sentraal-Amerika, tropiese dele van Suid-Amerika en sommige Karibiese eilande.

Iguanas mag as troeteldiere in Florida aangehou word, maar word nie deur enige wet beskerm nie, behalwe wetgewing rakende wreedheid teenoor diere.

Hulle is sedert die 1960’s in Suid-Florida, maar hul getalle het die afgelope jaar dramaties toegeneem en hulle word nou as ʼn indringerspesie beskou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.