Interpol waarsku teen diefstal van Covid-19-entstof

(Foto: Go Nakamura/Getty Images/AFP)

Interpol het owerhede wêreldwyd gewaarsku teen die bedreiging wat georganiseerde misdaadsindikate in die stryd teen Covid-19 inhou.

Interpol waarsku regerings om bedag te wees op skelmstreke tydens inentingsveldtogte, nagemaakte entstowwe en die diefstal van voorraad.

Die verspreiding van drie nuwe entstowwe begin na verwagting eersdaags en talle mense gaan desperaat wees om hulle so gou as moontlik te probeer beskerm – wat hulle ook maklike teikens vir misdadigers maak.

“Terwyl regerings voorberei om entstowwe te begin versprei, beplan misdaadsindikate om die verskaffingskettings te infiltreer of te ontwrig,” het Jürgen Stock, hoof van die internasionale polisiëringsagentskap, in Lyon in Frankryk gesê.

“Misdaadnetwerke gaan ook niksvermoedende lede van die publiek deur vals webwerwe en kamma-geneesmiddels teiken wat ʼn beduidende gevaar vir hul gesondheid inhou en selfs hul lewens kan bedreig,” het hy gesê.

Die agentskap het in Julie reeds gewaarsku teen die toenemende voorkoms van nagemaakte Covid-19-toetsstelle en ander mediese produkte, terwyl lande gejaag het om genoeg voorraad tydens die pandemie te bekom.

Interpol se kubermisdaadeenheid het onlangs niks minder nie as 3 000 webwerwe ondersoek wat verbind word met aanlyn apteke wat onwettige medikasie en ander mediese produkte verkwansel.

Altesaam 1 700 van die webwerwe het boonop skadelike sagteware ingespan en uitvissingstegnieke (phishing) ingespan om gebruikers te probeer uitvang om hul persoonlike data bekend te maak.

“Dit is belangrik om waaksaam te wees. Wees agterdogtig en bly veilig. Aanbiedinge wat te goed lyk om waar te wees, is gewoonlik,” het Interpol gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jacobus ·

Ons plaaslike ANC misdaadsindikate het die ander klaar voorgespring – nou vir die entstof.

Anel ·

Hoe lekker lag ek nou. Bly maar ver weg van my met daar die goed. Sal maar my kans neem daar sonder. Wat gaan hulle volgende jaar maak as daar ‘n ander virus sy kop uitsteek en wat bestand is teen die entstof? Hoe paranoïes is die wereld tog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.