Inwoners vlug in sentraal China terwyl tifoon nader

Zhengzhou het Dinsdag meer as 200 mm reënval in ʼn uur gekry. (Foto: China Xinhua News/Facebook)

Inwoners is Vrydag oor tydelike brûe ontruim tydens oorstromings in sentraal China ná ʼn stortvloed reeds minstens 56 lewens geëis het. ʼn Naderende tifoon dreig om nóg vloede in die gebied te veroorsaak.

Miljoene is geraak deur die vloede in die Henan-provinsie. Mense is dae lank vasgekeer sonder vars kos of water en paaie is afgesper. Groot gebiede is met enkeldiepte modder bedek.

Die dodetal sal waarskynlik styg, het provinsiale beamptes Vrydag aan verslaggewers gesê.

Tifoon In-Fa sal na verwagting Henan oor die volgende paar dae tref.

Brandbestryders het Vrydag modderwater uit tonnels gepomp in Zhengzhou, wat baie swaar getref is deur die storms. Minstens 12 mense het vroeër vandeesweek in ʼn moltrein verdrink toe ʼn jaar se reënval in slegs drie dae geval het.

(Foto: China Xinhua News/Facebook)

Inwoners het deur heuphoogte water ontruim saam met hul honde, fietse en sakke vol besittings. Reddingsbeamptes in lewensreddingsbaadjies het hulle na veiligheid gelei. Verskeie bejaarde mense in rolstoele is bo die stormwater opgelig.

Meer as 495 000 mense is reeds ontruim, het die Henan-regering gesê. Vloedskade beloop miljarde dollar.

Meteoroloë monitor angstig die vordering van tifoon In-Fa wat reeds swaar reën in Taiwan en die ooskus van China veroorsaak het. Die tifoon sal na verwagting die gebied, die tuiste van tienmiljoene mense, Sondag tref.

Stories van wonderbaarlike oorlewing en tragedie word gedeel uit suidelike dele van Henan. ʼn Baba is lewend uit ʼn huis, wat inmekaargestort het, opgegrawe. Haar ma is in die puin oorlede.

In een video wat op sosiale media gedeel is, kan gesien word hoe motors in die strate dryf (Foto:
Kwaku Krobea Asante, Twitter)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karina ·

Dit is darem vreeslik die oorstromings in die wêreld. Hoop die mense word na veiligheid gebring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.