Israelse troepe wag op bevel om in te val

Rook trek uit die noordelike Gaza-strook. (Foto: Jack Guez / AFP)

Rook trek uit die noordelike Gaza-strook. (Foto: Jack Guez / AFP)

Derduisende Israelse troepe wag tans op die grens van Gasa op ʼn bevel om dié enklawe binne te val.

Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, het die troepe op die voorste linies naby Gasa besoek en hulle aangemoedig om “soos leeus te veg” en “met volle mag te wen”. Die troepe wag tans vir die bevel om met ʼn grondaanval in Gasa te begin.

Yoav Gallant, die Israelse minister van verdediging, het aan sommige van die troepe op die grens gesê dat nuwe bevele “binnekort” gaan kom.

“Op die oomblik sien jy Gasa van ver af, binnekort sal jy dit van binne sien. Die bevel sal binnekort kom,” het Gallant gesê.

Pres. Joe Biden het intussen ʼn versoek aan die Amerikaanse regering gerig vir dringende befondsing om Israel te help met die oorlog. In ʼn toespraak Donderdagaand in die Withuis het hy gesê die geskiedenis is op ʼn “draaipunt” en dat die VSA ʼn “slim belegging” van miljarde rande se oorlogshulp aan beide Israel en Oekraïne moet maak. Die Withuis het nog nie enige besonderhede oor ʼn moontlike hulppakket bekend gemaak nie, maar ʼn bron het aan die nuuskanaal CBS gesê dit kan soveel as $14 milard aan Israel en $60 miljard aan Oekraïne behels.

Pres. Joe Biden spreek die Amerikaanse nasie toe. (Foto: Brendan Smialowski / AFP)

Humanitêre nood kring uit

Teen Vrydagoggend was die nood in Gasa gróót. Meer as 1 miljoen ontheemde Palestyne benodig in dié stadium dringend kos, water, medisyne en komberse.

ʼn Tekort aan skenkings blyk egter nie die probleem te wees nie. Broodnodige humanitêre hulpmiddels hoop inderwaarheid op by die nabygeleë El Arish-internasionale lughawe in Egipte.

Ahmed Ali, hoof van die Egiptiese Rooi Halfmaan, sê hy kry “twee tot drie vliegtuie per dag” met humanitêre hulp van ander lande.

Satellietbeelde wys ook hoe tientalle vragmotors wat brandstof en humanitêre goedere vervoer aan die Egiptiese kant van die Rafah-grenspos staan en wag dat dit oopmaak. Die vragmotors behoort aan onder meer die Verenigde Nasies en Egiptiese Rooi Halfmaan.

Die Rafah-grenspos – tans die enigste roete na Gasa– is egter nog gesluit.

Die Egiptiese staatsverbonde uitsaaier Al Qahera News berig die grenspos sal na verwagting Vrydag oopgestel word. Die Egiptiese owerhede sê egter hulle het meer tyd nodig om paaie te herstel weens die afgelope paar weke se bombardering in die gebied.

Biden het vroeër vandeesweek tydens ʼn kort besoek aan Israel ʼn ooreenkoms aangegaan sodat 20 vragmotors met humanitêre hulp toegelaat word om Gasa binne te gaan sodra die Rafah-grenspos oopgestel word.

Slegs kos, water en medisyne sal deurgelaat word. Brandstof wat dringend benodig word om hospitale en waterfiltreerstelsels van krag te voorsien, is nie deel van die ooreenkoms nie.

Dit lyk egter onwaarskynlik dat die eerste 20 hulpvragmotors wat vir Gasa geoormerk is, Vrydag deur Egipte se Rafah-grenspos sal kan beweeg weens voortdurende logistieke kwessies aan beide die Israeliese en Palestynse kant.

Palestyne skep water uit ‘n fontein. in Rafah in die suidelike Gaza-strook. (Foto: MOHAMMED ABED / AFP)

Michael Ryan, direkteur van noodgevalle van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), sê intussen die ooreenkoms wat Biden beklink het, is “ʼn druppel in die see van nood”.

“Dit behoort 2 000 vragmotors te wees.”

Die situasie in Gasa is “meer as katastrofies”, sê Sara Alzawqari, Unicef-woordvoerder vir die Golfstreek. “Die tyd raak min en die sterftesyfer onder kinders neem toe.”

BBC berig dat Juliette Touma, kommunikasiedirekteur van die VN-agentskap vir Palestynse vlugtelinge, sê Gasa het “ʼn hool geword”.

Touma het op BBC Newsday gevra dat die beleg op Gasa opgehef word sodat humanitêre voorrade burgerlikes in Gasa kan bereik.

“Die tyd loop uit. Dit is al amper twee weke. Twee baie lang weke waartydens ons nie enige voorrade in Gasa kon kry nie.”

Touma sê dit is onseker wanneer die die Rafah-grenspos oopgestel gaan word.

Op die vraag oor hoe daar verseker gaan word dat die humanitêre hulp nie in die hande van Hamas beland nie, het Touma geantwoord dat die VN-agentskap vir Palestynse vlugtelinge “streng ondersoeke en moniteringstelsels gereed het”.

In Israel in 1 400 mense nou al deur Hamas gedood en 3 500 beseer. Talle word ook nog deur Hamas in Gasa as gyselaars aangehou.

Meer as 3 700 Palestyne, hoofsaaklik burgerlikes, is reeds in Gasa gedood.

Bronne: AFP, Washington Post, BBC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Wat Gallant eintlik bedoel is dat Gaza binnekort nie meer gesien kan word nie.

Wit Leeu ·

Dit moes al lankal gebeur het ! Waarvoor wag hulle…………………..

Frances ·

In oorlog is daar nooit wenners of verloorders vir beide kante se siviele mense nie. In ons land word daagliks ongeveer 216 mense vermoor volgens misdaad statistieke, 78 000 per jaar. Ons is nie eers in n oorlog nie, maar niemand in die hele wereld dink dit is erg nie, behalwe ons eie mense wit en swart wat dit daagliks ervaar. Lande waarsku maar net hulle burgers dat ons n gevaarlike land is om te besoek en verder is daar nie so n “outcry” soos wat ons nou wereldwyd sien gebeur met die Israel oorlog nie. In ons dan so n minderwaardige ou landjie dat die wereld maar net toekyk??

Ratel ·

Frances, ons is maar net die rooikop stiefseun in die hoek tot die “ontwikkelde” lande minerale en skatte by ons soek.

Casper ·

Streng veiligheidsmaatreëls sal moet geld om Hams aanvalle op die noodvoorraad af te weer.Die voorraad moet die regte mense bereik.Ek glo die grondaanvalle is onvermydelik en Israel wag net vir die regte oomblik.

Martie Smartie ·

Hamas kan nie wag om hulle bebloede hande op daai voorrade te kry nie …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.