Jane Fonda deel kankernuus

Jane Fonda (84). (Foto: Instagram)

Die Amerikaanse aktrise en aktivis Jane Fonda het Vrydag aangekondig dat sy kanker het.

“Die nie-Hodgkin-limfoom is by my gediagnoseer en ek het met chemoterapie begin,” lui die inskrywing van die 84-jarige Oscar-bekroonde aktrise op haar geverifieerde Instagram-rekening.

Fonda hou egter in dié inskrywing vol dat sy een van die min gelukkiges is.

“Dit is ʼn baie behandelbare kanker. Soveel as 80% van mense oorleef, so ek voel baie gelukkig. Ek is ook gelukkig want ek het gesondheidsversekering en toegang tot die beste dokters en behandelings.

“Byna elke gesin in die VSA moes een of ander tyd kanker hanteer en te veel het nie toegang tot die kwaliteit gesondheidsorg wat ek ontvang nie en dit is nie reg nie,” het sy gesê.

Luidens die inskrywing sal Fonda ses maande lank chemoterapie moet ondergaan. Sy vaar in dié stadium goed met die behandeling.

Verskeie bekendes het sedertdien op die inskrywing kommentaar gelewer. “Stuur vir jou al my krag! Lief vir jou Jane,” lui ’n boodskap van die aktrise Reese Witherspoon.

Fonda speel tans in die Netflix-treffer Grace and Frankie terwyl haar stem in die Apple TV+-animasie Luck gehoor kan word.

Fonda se eerste rolprent, Tall Story, is in 1960 uitgereik en later het sy ʼn Oscar as beste aktrise vir die riller Klute (1971) en die romantiese oorlogsdrama Coming Home (1978) verower.

Sy is in haar loopbaan al vyf keer vir ’n Oscar benoem – vier van dié benoemings in die beste aktrise-afdeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.