Joernalis in Amasone met ‘jagammunisie’ geskiet

Dom Phillips (Foto: Joao LAET / AFP)

Die Brasiliaanse polisie sê die Britse joernalis Dom Phillips en Brasiliaanse natuurkenner Bruno Pereira is doodgeskiet met ammunisie wat gewoonlik vir jag gebruik word.

Menslike oorskot wat onlangs in ’n afgeleë gedeelte van die Amasone gevind is, is intussen positief as dié van Phillips en Pereira geïdentifiseer.

’n Derde verdagte is intussen in hegtenis geneem nadat hy hom aan die polisie oorgegee het.

Die Brasiliaanse owerhede sê Phillips (57) is een keer in die bors geskiet, terwyl Pereira (41) drie skietwonde, waaronder een in die kop, opgedoen het.

Pereira, ’n uitgesproke kampvegter vir inheemse regte, het voor sy dood verskeie doodsdreigemente ontvang.

Phillips en Pereira het op 5 Junie in die Amasone vermis geraak toe hulle per boot in die Javari-vallei in Brasilië, naby die grens met Peru, gereis het om inligting vir ’n boek na te vors. Die boek handel oor volhoubare maniere om die wêreld se grootste reënwoud te beskerm.

Twee broers is intussen in verband met die moorde in hegtenis geneem.

’n Derde verdagte – Jefferson da Silva Lima, ook bekend as Pelado da Dinha – het hom ondertussen aan die polisie in Atalaia do Norte oorgegee. Hy is nie familie van die twee broers wat vroeër aangekeer is nie.

Kommissaris Alex Perez Timoteo het aan die nuuswebwerf G1 gesê bewyse en getuienis wat tot dusver ingesamel is, dui daarop dat die derde verdagte “op die toneel van die misdaad was en aktief deelgeneem het aan die dubbele moord wat plaasgevind het”.

Timoteo het ook aan verslaggewers gesê nog inhegtenisnemings sal waarskynlik in die komende dae volg.

“Ons gaan probeer verstaan of die verdagtes ’n vroeëre ooreenkoms gehad het; of hulle hierdie situasie beplan het.”

Aktiviste blameer nou president Jair Bolsonaro vir die moorde omdat hy die kommersiële uitbuiting van die Amasone toegelaat het ten koste van die omgewing en wet en orde.

Bolsonaro lê egter die skuld voor die deur van Phillips en Pereira omdat hulle ’n “roekelose” reis onderneem het in ’n gebied waar inwoners nie ooghare vir Phillips gehad het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marcello ·

Hoekom het hulle nie ooghare vir Phillips gehad nie, hy het hulle mos te na geskom nie.?

philippus ·

Dink die president van Brasilië is akuraat. Howel die mense gaan inmeng het in n ander land, moes hulle hul huiswerk beter gedoen het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.