Johnson het Britse parlement doelbewus mislei – komitee

Boris Johnson. (Foto: Tolga Akmen, AP)

Boris Johnson het doelbewus vir LP’s gelieg oor dáárdie wilde partytjies wat tydens die algehele afsondering by Downingstraat 10 gehou is.

So het ’n Britse parlementskomitee Donderdag beslis.

Die sogenaamde Voorregtekomitee, wat oortredings van die reëls van die Laerhuis ondersoek, het eindelik beslis dat Johnson hom skuldig gemaak het aan herhaaldelike minagting van die parlement en probeer het om die parlementêre proses te ondermyn.

Indien Johnson nié verlede week as Britse LP bedank het nie, sou hy nou vir 90 dae geskors gewees het.

“Die minagting was des te ernstiger omdat dit deur die premier, die mees senior lid van die regering, gepleeg is,” sê die komitee in ’n verdoemende verslag van 106 bladsye.

“Daar is geen presedent vir ’n premier om die Huis opsetlik te mislei nie.

“Hy het die Huis mislei oor ’n kwessie van die grootste belang vir die Huis en lede van die publiek, en het dit herhaaldelik gedoen.”

Die komitee van sewe lede, onder wie LP’s van Johnson se eie konserwatiewe party, het magte om sanksies aan te beveel teen reëloortreders waaroor daar gestem moet word.

Johnson (58) het homself egter die vernedering van ’n skorsing gespaar toe hy verlede week – enkele dae voor die verslag vrygestel is – as LP bedank het.

Johnson het egter in sy bedankingsbrief volgehou dat sy bywoning van die betrokke Downingstraat-partytjies tydens die Covid-19-pandemie nie ter misleiding was nie en dat sy politieke opponente hom tot ’n val wil bring.

“Dit is ’n verskriklike dag vir LP’s en vir demokrasie,” het Johnson ook Donderdag in reaksie op die komitee se bevinding gesê.

“Hierdie besluit beteken dat geen LP vry is van vendetta, of skorsing op grond van bedrieglike aanklagte deur ’n klein minderheid wat wil toesien dat hy of sy van die Laerhuis verwyder word nie.

“Ek het geensins minagting vir die parlement, of vir die belangrike werk wat deur die Voorregtekomitee gedoen moet word nie,” hou Johnson vol.

Die Britse eerste minister, Rishi Sunak, se amptelike woordvoerder het Donderdag geweier om kommentaar te lewer op Johnson se bewerings en gesê die komitee is “behoorlik saamgestel … besig om werk in opdrag van die parlement uit te voer”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Groen Ghoen ·

Dit bewys wat die globale topleiers werklik van Covid gedink het: Johnson het skaamteloos opgetree terwyl sy onderdane ingehok gesit het, met maskers op die gesigte. Skandelik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.